Deur Andró Griessel, 20 Februarie 2016
As jy skuld, ’n vrou en/of minderjarige kinders of ’n kat met duur eetgewoontes het, het jy waarskynlik lewensversekering. Die kans dat jy in hierdie stadium dink jy gaan hierdie versekering hê totdat dit eendag gaan uitbetaal, is waarskynlik ook goed.
Glo my ook gewis dat al dink jy nie nou so nie, wanneer jy jou eerste groot teenspoed met jou gesondheid gehad het, begin jy ewe skielik om na jou lewensversekering as ’n bate te kyk in plaas van ’n ongewensde maandelikse uitgawe.
Wat my egter pla, is dat ek baie min kliënte teëkom wat ná 70 nog hul lewensversekering het. Die enkeles wat wel nog hul lewensversekering gereed het, kreun gewoonlik onder die premies (indien die dekking sinvolle bedrae is) of, weens dekking wat nie gestyg het nie, het net genoeg dekking gereed om vir ’n begrafnis met ’n band te betaal.
Hierdie verskynsel het ons hard en lank laat dink oor hoe sinvol die tradisionele benadering tot lewensversekering is. Dit lyk eenvoudig of die siening dat jy lewensdekking gaan hê tot die dood in die meeste gevalle nie korrek is nie.
Omdat die waarskynlikheid dat jy wel aftreeouderdom gaan bereik en ’n hele paar jaar daarna nog gaan leef steeds heelwat groter is as die waarskynlikheid dat jy vroeg sterf, laat vaar baie mense hul dekking in hul 60’s omdat die premies eenvoudig ’n probleem begin raak in verhouding tot wat hul na-aftrede-inkomste kan bekostig om te betaal.
Ek kan verkeerd wees, maar vir my verteenwoordig iemand wat gedink het hy gaan lewensversekering hê wat eendag aan sy gesin gaan uitbetaal en dit dan laat in sy lewe stop, ’n mislukte plan.
So hoekom gebeur dit? Die gebrek aan genoegsame voorsiening vir aftrede is ’n groot deel van die antwoord, maar ’n ander groot stuk van die legkaart dink ek lê opgesluit in die tempo waarteen jou lewensversekeringspremies elke jaar toeneem in verhouding tot waarmee jou salaris toeneem.
Sien die tabel hieronder. Gestel Koos is vandag 43 jaar oud en sy lewensversekering kos hom R2 000 per maand. Gestel verder dit maak 5% van sy huidige netto salaris uit.
As Koos weet waarmee sy lewenspremie elke jaar styg, kan hierdie tabel hom help om uit te werk of sy plan enigsins uitvoerbaar is. Vir die doel van eenvoudigheid het ek aanvaar Koos se gemiddelde verhoging in sy inkomste nou (en ná aftrede) sal jaarliks 7% wees.
Die tabel dui dan die faktor aan waarmee sy lewensversekering sal styg in verhouding tot sy inkomste.
As ons dan na die twee groen scenario’s gaan kyk, sien ons die volgende:
Hou ook in gedagte dat ek aangeneem het daar is geen daling in Koos se inkomste ná aftrede nie. Dit is nie baie realisties nie, aangesien baie min mense met 100% van hulle laaste salaris kan aftree.
Koos se situasie sal in die praktyk dus eintlik slegter wees as wat die tabel hierbo aandui.
Doen jouself die guns en gaan doen die volgende oefening om seker te maak jou plan rondom jou lewensversekering is uitvoerbaar:
Let wel: Ons is van mening dat daar ’n baie groot saak uit te maak is daarvoor om dekking as tydelik te sien en jou plan daarvolgens in te rig, maar meer daaroor op ’n ander dag.
* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management.