Seks, Bitcoin en Kubusse
October 3, 2017
Should I sell my Naspers shares?
October 24, 2017

Ster-aandele: Klou jy vas of laat jy gaan?

Ster-aandele: Klou jy vas of laat jy gaan?

Moet ek my Naspers-aandele verkoop? Dié vraag en soortgelyke vrae oor ander groot posisies in enkele aandele is een wat mense dikwels vir hul adviseurs vra of hulself afvra.

(Met groot posisies in enkele aandele bedoel ek jy besit slegs een of enkele maatskappy(e) se aandele, dus is jou welvaart gekonsentreer in daardie firmas.)

Die antwoord hierop is egter ’n teenvraag. Wil jy ’n goeie besluit neem of wil jy ’n besluit neem wat die beste uitkoms vir jou gaan bewerkstellig?

Wanneer mense dit vra, is hulle gewoonlik geïnteresseerd in laasgenoemde, met ander woorde hulle probeer die golf ry tot op die kruin voordat hulle verkoop.

As dít die vraag is, is daar ongelukkig nie ’n antwoord nie.

Ek vind mense sukkel veral om rasioneel te dink as hulle aandele “verniet” gekry of geërf het. Voorbeelde hiervan is Sanlam en Old Mutual (destyds met demutualisering), Pioneer (baie boere het aandele gekry danksy hul lidmaatskap van koöperasies), Naspers, Remgro en Richemont (grotendeels vererwing) en natuurlik aandele in die maatskappy waarvoor jy werk, indien dit ’n genoteerde maatskappy is.

Ek het in die verlede al heelwat geskryf oor kognitiewe vooroordele en hoe dit ons besluitnemingsprosesse kan pootjie.

Die drie wat die meeste invloed hier uitoefen, is sekerlik:

  • Eienaarskap-vooroordeel, waar jy meer waarde heg aan iets net omdat jý dit besit;
  • Status quo-vooroordeel, waar jy nie wil verander aan jou huidige situasie nie, veral as dit tot dusver goed gewerk het; en
  • Liniêre denke, waar historiese prestasie eenvoudig geëkstrapoleer word in die verre toekoms in.

Ek dink die belangrike beginsel as jy werklik goeie besluite wil neem oor die hou van die aandele al dan nie, is om met ’n skoon blaadjie te begin.

Ek vind mense sukkel veral om rasioneel te dink as hulle aandele ‘verniet’ gekry of geërf het.

Kom ek verduidelik: As jy vandag die tyding kry dat jy by ’n lank vergete familielid R1 miljoen geërf het, wat sou jy daarmee maak?

Jy gaan seer sekerlik (as ons aanvaar jy gaan nie skuld aflos nie) die een of ander vorm van ondersoek doen na sinvolle beleggingsgeleenthede. As jy tevrede is dat jy verskeie opsies oorweeg het, sal jy dit belê.

Ek wil amper met 100%-sekerheid sê die kans dat jy die hele R1 miljoen gaan belê in enige van die aandele wat ek hierbo genoem het, is uiters skraal.

Waarom is dit dan presies wat mense doen wat hierdie aandele “gekry” het pleks van die kontant? Die feit dat jy dit het, beteken nie jy moet dit so los nie.

Jy kan ’n gedeelte verkoop en diversifiseer na ander geleenthede.

Hier kom die vooroordeel van agternabeskouing natuurlik ook in, want kyk byvoorbeeld na ’n aandeel soos Naspers.

Gestel jy het ’n klomp Naspers-aandele geërf en iemand het vyf jaar gelede vir jou gesê jy moet 80% of 90% daarvan verkoop en die geld na ander geleenthede diversifiseer. Jy sou waarskynlik oor daardie persoon wou ry as jy hom/haar nou in die straat sou sien.

Maar was die advies verkeerd? Die feit dat, agterna beskou, die uitkoms wesenlik swakker sou wees, beteken nié die advies was verkeerd nie. Moet nooit die gehalte van ’n besluit (goed of sleg) beoordeel teen die uitkoms nie, want die uitkoms kon ook heelwat anders gewees het.

Pioneer bied ’n goeie geleentheid om die punt te illustreer. Die tabel wys die aandeelprys op 16 Oktober en oor die vorige vyf jaar in Oktober.

Van 2011-’14 het hierdie aandeel astronomies gegroei en was die gemiddelde opbrengs op 16 Oktober 2015 in die orde van 54% per jaar oor die vorige drie jaar.

Ná twee jaar se dalings van onderskeidelik 17% en 28% is die aandeel egter weer terug by 2013-vlakke en het die gemiddelde opbrengs afgeneem van 54% per jaar tot 17% per jaar.

Ná jaar een sou diversifikasie ’n baie ongewilde keuse gewees het, ná jaar twee dieselfde storie, ná jaar drie sou jy te skaam gewees het om enigsins die onderwerp aan te roer, maar ná jaar vier en vyf lyk jy soos die wyse man uit die Ooste (of was dit nou uit die Weste?).

Gestel egter jy het ’n groot blootstelling aan Pioneer gehad (en hier kan jy dit maar vervang deur Naspers, Richemont, Remgro ens.), wat doen jy nóú? Verkoop jy nóú die aandeel en diversifiseer jy, of wag jy totdat dit weer herstel?

Kan jy insien dat jy nou in ’n besluitnemingsdilemma is? Weer glo ek die skoonbladbenadering behoort gevolg te word, ongeag wat gebeur het oor die afgelope 12 maande.

As iemand vandag vir jou daardie bedrag geld in kontant sou gee, wat sou jy daarmee doen? Sou jy teen die huidige vlakke van die aandeel alles in daardie een aandeel belê?

Seer sekerlik nie.

Jy sou wel dalk ’n groter verhouding in die aandeel wou hou omdat dit nou teoreties onderwaardeer kan wees, maar dit sal weer eens die gevolg van ’n proses van ontleding moet wees en nie bloot net omdat dit baie gedaal het nie.

Daar is natuurlik ander oorwegings, soos kapitaalwinsbelasting, indien jy verkoop, maar ek meen dit is sekondêr aan die eerste besluit, naamlik die sinvolle samestelling van jou portefeulje.

Laat ek dit net onomwonde stel: Niemand weet wat met Pioneer (of enige ander aandeel) se prys gaan gebeur oor die volgende 12 maande nie. Ons kan baie maklik oor 12 maande met ’n aandeelprys sit wat 50% hoër is, of selfs verder gedaal het.

Die punt van die artikel is nie om te sê daar is iets soos sinvolle voorspellings nie, maar wel dat daar ’n proses is wat gevolg behoort te word ten opsigte van die organisasie van jou beleggings.

As jy dit konstant en weldeurdag toepas, behoort jy by ’n bevredigende posisie uit te kom sonder om die risiko van oormatige konsentrasie (al jou eiers in een mandjie) te neem.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel
Show Buttons
Hide Buttons