How to keep the Grinch at bay and still use your Christmas bonus wisely
December 8, 2017
How can I trust it?
December 22, 2017

Maar hoe glo ek dit werklik?

Maar hoe glo ek dit werklik?

In die bemarkingsklas op universiteit is daar baie gepraat oor strategie, reklame en die opstel van Nando’s standaard advertensies, maar die kern boodskap was eenvoudig hoe jy jou produk binne die mandjie van die verbruiker kry. My grief kom wanneer hierdie “verkoop of opinie teen alle koste” houding oorspoel na die finansiële sektor waar dieselfde boodskap aan leke en eksperts gelyk gebied word.

Ek wonder soms hoe Jan Alleman deesdae ‘n besluit sou neem oor die aankoop van ‘n finansiele produk. Jy kry inligting van sosiale media, konvensionele media, die braaivleis vuur en dan ook soms ‘n adviseur. Gooi nog ‘n komplekse hoeveelheid emosie en finansiële gedrag in en jy sit met ‘n verbruiker wie se persepsies en opinies geweldig beïnvloedbaar is.

Advertensies probeer ‘n sekere boodskap laat posvat, maar hoe weet jy regtig of dit die verpersoonliking is van die maatskappy se etos? Neem een van die aspekte van ‘n missie staat van ‘n eens enorme maatskappy in Amerika. “Integriteit – Ons werk met verbruikers op ‘n eerlike, openlike en opregte manier”. Die maatskappy was Enron, wat gevou het in 2001 as gevolg van een van die grootste rekeningkundige knoeiery ooit. Hoe glo jy werklik die intensies van ‘n maatskappy of persoon as dit tog duidelik in geen besigheid se belang is om iets anders as bogenoemde te bely?

Ek is bevrees daar is ‘n verwronging van etiek aanwesig tans en jy hoef bloot te kyk na die lukrake verskille tussen die tipe boodskappe wat verkoop word. Daar is geen manier wat die plakkaat met die sportman teen die lughawe se pilaar wat jou 20% per jaar belowe en ‘n gerespekteerde batebestuurder dieselfde verpersoonliking is van beste intensies nie. Dog is verbruikers daagliks blootgestel aan beide.

Ek haal twee voorbeelde aan, een meer ekstreem as die ander. Op ‘n webtuiste is daar ‘n banier wat flikker met ‘n jong knaap wat sy werk bedank het en voltyds Bitcoin verhandel met die slagspreuk: “ek verdien nou sewe keer meer as in my ou werk”.  Die gierige natuur van die advertensie skep ‘n emosie by die gesalarieerde werknemer, maar die werklike vraag is hoeveel verhandelingsfooie ‘n maatskappy maak wat op so manier bemark? Die eerste emosie is ongelukkig meestal die een wat blywend is.

In die tweede voorbeeld is dit ‘n welbekende plaaslike versekeraar wat op die emosie speel dat hul beleggings produk hul kliente in staat gestel het om hul droom te realiseer van oorsee gaan. In ons analiese is die gevolgtrekking bereik dat dit ‘n geweldige komplekse produk is, maar die publiek koop die idee wat gelos word en bemarking seevier.

Dit is dus verstaanbaar dat daar ‘n algehele wantroue is onder die publiek rondom instansies en adviseurs. Ongelukkig word jou etiese waardes opgemaak deur jou blootstelling tot verskeie situasies, jou waardes, opvoeding en ervaringe. Dit is vir een adviseur eties om 3% aanvanklike fooie te neem en ‘n vir ander geensins eties, maar die publiek is nie beskerm hierteen.

Die debat tussen passiewe en aktiewe fondse kom by my op. Passiewe beleggings fondse ry tans die golf van ‘n vergrootte blootstelling tot Naspers en ewe skielik is alle aktiewe fondse oudmodies en nikswerd. Aktiewe fondse wys weer op hul beurt hoe hul gemaklik passiewe fondse uitpresteer sedert intreedatum. Beide is eties in hul uitgangspunt, maar die vorming van persepsie deur die verbruiker op grond van die inligting lei uiteindelik tot besluitneming.

As verbruiker hoef jy nie met alles akkoord te gaan nie en moet jy sover moontlik deur die geraas van advertensies en blink ontvangslokale kyk en deurdagte vrae stel aan jou adviseur of produkverskaffer. Dit is nie net meer goed genoeg om iemand te vertrou omdat jou vriend of familielid die persoon vertrou nie. Doen jou eie huiswerk en probeer sover moontlik sensasionalistiese persoonlikhede en opinies vermy. Probeer ‘n norm vind vir wat vir jou aanvaarbaar is in terme van die antwoorde wat jy verwag en meet hierdie antwoorde teen die van ander in ‘n soortgelyke industrie. Jy sal vining uitwerk wie ongemaklik rondskuif in ‘n stoel en wie hul filosofie en uitkyk eenvoudig en eties kan verwoord.

Een van die beste praatjies wat ek al bygewoon het was deur Dave Fishwich van M&G. In die eerste video het hy ‘n das en kerkpak aan en bied ‘n kort ekonomiese oorsig oor die wereld. In die tweede video sê hy presies dieselfde storie, maar hy lê dan in ‘n speedo langs die strand met ‘n pina colada. Sy vraag was wie jy gaan glo aangesien beide se feite en storie dieselfde is. Die antwoord is redelik voor die hand liggend.

As verbruikers van veral finansiële produkte is ons geneig om ons opinies en persepsies te skoei op die beeld wat aan ons voorgehou word. Dwing jouself om krities te dink en met ‘n goeie dosis skeptisisme enige produk en advies te analiseer. Die voordeel van die proses is dat daar wel produkverskaffers en adviseurs is wat ‘n streng kode van etiek volg en indien jy deur hierdie ondervragingsproses kan kom kan jy werklik vertroue bou deur ‘n langtermyn verhouding.

Vertroue word gebou oor tyd en is ‘n konstante ontwikkeling en wisselwerking van emosies en ervarings. Nog nooit was daar so baie informasie om te dissekteer, maar dit plaas die verbruiker ook in die posisie om ‘n deurdagte, ingeligte besluit te neem indien die inligting deur ‘n etiese haarnaald getrek word.

Cassie Carstens
Show Buttons
Hide Buttons