Do you want to become a lion’s lunch?
February 12, 2018
Investments: So how much interest do you offer?
March 2, 2018

Wil jy leeukos wees?

Wil jy leeukos wees?

As mense is ons nie goed met die behoorlike beoordeling van risiko nie. Die lugvaartbedryf het dit gelukkig baie vinnig geleer, miskien omdat ’n stadige leerkurwe hier tot jou dood sou lei, en besef dat kontrolelysies onontbeerlik is.

Ek wil my verstout om te sê dat as jy nie ’n behoorlike proses volg met risikobeoordeling nie, jy jou dikwels in ’n penarie gaan bevind. Die probleem is dat baie van die risiko’s wat ons loop amper onbewustelik gebeur of dat niemand die moontlike risiko’s van jou optrede aan jou uitwys nie.

Meer dikwels is die risiko’s ook nie verbonde aan ’n aktiewe besluit of daad nie, maar die gebrek aan een (soos om nie te oefen nie, nie op te hou rook nie, of nie te spaar vir aftrede nie).

Selfs wanneer ons bewustelik ’n besluit moet neem, soos om van werk te verander, oor versekering uitneem, ’n gepaste huweliksbedeling, ’n belegging en of jy maar kan bestuur terwyl jy een te veel drankie gedrink het, slaag ons nie daarin om al die moontlike uitkomste en die impak daarvan behoorlik te deurdink nie.

Die risiko van optrede nou wat eers later in ons lewe probleme kan veroorsaak, word natuurlik ook dramaties onderskat.

Kom ek skets die volgende voorbeeld om dit te illustreer: ’n 38 Special-rewolwer het gewoonlik plek vir ses koeëls. Gestel jy is ’n roker en ek sê vir jou rook verhoog jou kans op longkanker met 33% en jy moet kies tussen die volgende twee opsies:

  • Opsie 1 is jy vul een kamer van die 38 Special, tol die magasyn, druk die loop teen jou kop en trek die sneller, en dan sal jy heeltemal genees wees van jou behoefte aan rook en nooit weer aan ’n sigaret raak nie.
  • Opsie 2 is dat jy net aanhou rook en die risiko loop dat jy longkanker kry.

Dit is ’n effens absurde voorbeeld, maar die feit dat die twee nie eens naastenby dieselfde vrees by jou opwek nie, vertel tog ’n storie.

Hoewel die kans dubbeld so groot is dat jou rookgewoontes, eerder as een potjie Russiese roulette, tot jou dood gaan lei (al is dit iewers in die verre toekoms), voel jou rookgewoontes na ‘n duisend maal veiliger opsie.

Ons doen almal van tyd tot tyd goed wat ons weet dom is of laat soms deurlopend na om sekere goed te doen wat ons weet ons in die verre toekoms duur te staan gaan kom.

Van hierdie “dom” besluite word herhaaldelik geneem as gevolg van die afwesigheid van ’n negatiewe uitkoms tot op hede.

Jy het miskien al baie huis toe gery ná ’n geselligheid terwyl jy weet jy is oor die perk, maar is nog nooit afgetrek nie. Jy oorwerk jouself dalk of eet ongesond, maar het nog nie ’n hartaanval gehad nie. Hierdie denkpatroon is egter baie gevaarlik en dit sal jou loon om ’n beter stelsel van besluitneming te kry.

Wat volg is hopelik ’n maklike proses wat jy kan volg in besluite waar daar ’n risikovoordeel-verhouding is.

Stap 1: Vergeet van die voordele, konsentreer op die risiko’s.

Glo my gerus dat enige voordeel of besparing in koste of moeite wat jy kon behaal deur ’n risiko te loop, oombliklik geheel en al relevansie verloor die oomblik dat ’n negatiewe uitkoms behaal word.

Ons is geneig om ook die verskillende risiko’s te onderskat of nie aan allemoontlike ongewenste uitkomste te dink nie.

Neem dus jou tyd en dink goed na oor wat alles moontlik kan skeefloop.

Aanvaar dan verder dat daar goed is wat kan skeefloop wat jy nie op die oomblik kan voorsien nie.

Stap 2: Neem waarskynlikheid in ag.

Byvoorbeeld: Ek kan glad nie saamleef met die uitkoms dat ’n leeu my opvreet terwyl ek in die wildtuin na diere kyk nie.

Solank ek my vensters toe- hou en nie uit die voertuig klim nie, is die waarskynlikheid dat dit sal gebeur darem seker nul of so na aan nul as wat jy kan kom.

Die oomblik dat iemand my egter vra om uit te klim om ’n pap band om te ruil, raak hierdie waarskynlikheid dalk tussen 2% en 5%.

Gekoppel met die uitkoms (dat ek leeukos raak), en hoewel die waarskynlikheid steeds baie laag is, is dit eenvoudig nie ’n sinvolle risiko om te loop nie.

Ek sien in die praktyk hoe die ignorering van waarskynlikhede tot baie eienaardige optrede lei.

Mense sal byvoorbeeld nie wil vlieg nadat nuus oor ‘n ongeluk op die voorblad verskyn het nie of hul weier om in die see te swem weens hul vrees vir haaie, maar hul dink nie twee keer om die straat oor te steek of in hul motor te klim (waar die risiko baie groter is) nie.

Stap 3: Dink aan die impak van ’n negatiewe uitkoms en of jy hiermee kan saamleef.

As jy glad nie met die uitkoms kan saamleef nie (dood, bankrotskap, tronkstraf, sosiale vernedering en so meer) en die waarskynlikheid dat die negatiewe uitkoms ’n realiteit raak is nie weglaatbaar klein nie (na my mening enigiets groter as een uit ’n miljoen), dan is die kool eenvoudig nie die sous werd nie.

Let egter op dat twee mense in dieselfde omstandighede by verskillende antwoorde kan uitkom weens die “impak-effek” (dink Bill Clinton en Monica Lewinsky).

Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat daar sekere optredes is wat eenvoudig geen sin maak nie, aangesien die slegste moontlike uitkoms jou lewe kan vernietig, die potensiële voordeel of besparing minimaal of van korte duur is en die waarskynlikheid van ’n negatiewe uitkoms nie weglaatbaar klein is nie.

Goeie voorbeelde hiervan is dronkbestuur, bedrog, belastingontduiking en rassistiese uitlatings op sosiale media of enige ander plek, om maar ’n paar te noem.

Mag julle in die jaar goeie besluite neem!

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel
Show Buttons
Hide Buttons