Investments: So how much interest do you offer?
March 2, 2018
Is hierdie 2018 of 2008?
April 26, 2018

Beleggings: Vra die regte vraag oor jou opbrengs

Beleggings: Vra die regte vraag oor jou opbrengs

Deur Cassie Carstens

“Nou hoeveel rente gee julle?”

Hoewel dit nie ’n sinvolle vraag is nie, is dit een wat beleggers dikwels vra.

Dit spruit uit die onstuimige gesteldheid van die daaglikse nuus uit die markte en die hunkering na ’n reëlmatige opbrengspatroon.

Die regte vraag is egter met hoeveel persentasiepunte ’n kliënt jou sal toelaat om ’n opdrag na te streef om inflasie oor tyd te klop.

Die opbrengs wat ’n vasterentebelegging genereer, byvoorbeeld ’n vaste deposito by die bank, is suiwer rente.

Die opbrengs wat ’n tipiese effektetrustfonds met multibatetoewysing genereer, sal bestaan uit kapitaalgroei, rente en dividende van ’n plaaslike of buitelandse bron.

Die blote samestelling van ’n tipiese effektetrust sal veroorsaak dat die opbrengspatroon daaruit nie reëlmatig sal wees nie.

In ’n normale beleggingsiklus gaan daar tye wees dat ’n effektetrustbelegging heelwat beter gaan vaar as ’n geldmark- of vaste-deposito-rekening by jou bank, maar daar gaan ook tye wees dat die effektetrustbelegging heelwat swakker gaan vaar as kontant. Daar kan selfs korttermyndalings in die effektetrustbelegging wees.

Wanneer dit gebeur, wys adviseurs hul kliënte op die belegging se langtermyngroei, maar die tipiese kliënt sukkel emosioneel om dit te aanvaar as sy korttermynsyfers iets anders sê.

Ons sien hoe mense se horisonne, veral in onstuimige tye, al hoe korter raak. Hulle begin die prestasie van hul belegging op ’n kwartaal-tot-kwartaalgrondslag, en soms selfs op ’n maandtot- maand-grondslag, beoordeel.

Maar om werklik te verstaan of jou belegging goed of sleg vaar, moet jy dit teen ’n billike maatstaf meet.

Veronderstel die JSE se indeks van alle aandele daal met 20% en jou aandeleeffektetrust daal met 10% – in werklikheid het jy dan vergeleke met jou maatstaf beter gevaar.

Jy verloor egter teen inflasie. In sulke tye is dit nie billik om ‘n vaste-rente-bankbelegging te vergelyk met die aandele-effektetrust nie.

Dit was presies die situasie onlangs toe Suid-Afrikaanse aandele amper twee jaar lank, van Mei 2015 tot Junie 2017, sywaarts beweeg en die rand wesenlik versterk het ná Nene-gate in Desember 2015 toe Nhlanhla Nene uit die bloute deur oudpres. Jacob Zuma afgedank is as minister van finansies.

Beleggers het al hoe meer skugter geraak vir suiwer aandelefondse, maar die ironie is dat selfs gebalanseerde fondse in dié tydperk swakker as iets soos die geldmark sou vaar.

Die vraag “Hoeveel rente bied julle?” het al hoe moeiliker geraak om te antwoord, gegewe dat dié tweejaartydperk ’n wesenlike impak gehad het op enige groeisyfers wat jy kon gebruik om jou langtermynstandpunt te staaf.

Die ervaring wat ’n belegger met sy belegging het, hang baie van sy beginpunt af – of as ’t ware hoeveel van ’n buffer opgebou is in die aanvanklike fase van die belegging.

Om dit te illustreer, neem ek twee beleggers se ervaring:

Een wat reeds geruime tyd (sedert 2010) belê is in ’n kombinasie van bekende gebalanseerde fondse (Allan Gray, Coronation, Prudential en Investec) en een wat eers in 2016 begin belê het in presies dieselfde kombinasie van fondse.

Vir konteks vergelyk ek dit met wat die belegger se ervaring in ’n bekende geldmarkbelegging sou wees.

Belegger 1 het in die goeie jare vet opgebou vir die maer jare. Sy saamgestelde groei sedert die begin van sy belegging was ’n baie bevredigende 11,8% per jaar teenoor die geldmark se 6,48% per jaar.

Belegger 2 het nie die voordeel gehad van die goeie jare nie en sy saamgestelde groei oor die twee jaar was slegs 6,99% per jaar, amper ’n hele persentasiepunt per jaar swakker as wat hy/sy uit geldmark sou kon verdien.

As jou beginpunt van die belegging dus in ’n swak deel van die siklus was, kan jy vir ’n lang ruk ’n ongemaklikheid oor jou opbrengste ervaar en die knaende gevoel hê dat jy eerder jou geld in die geldmark moes gelos het. Wat wel belangrik is om te weet, is dat jy by dieselfde eindbestemming sal eindig indien jy op koers bly, of jy nou die opdraand aan die einde kry of aan die begin.

Belegger 3 het die 2016-’17-ervaring aan die begin van sy langtermynbelegging gehad. Aanvanklik is hy agter by die geldmarkbelegging, maar hy haal dit vinnig in en eindig ver voor.

Jy kan nie kies watter beleggingsrit jy gaan hê nie, maar jy kan kies hoe jy daarop gaan reageer. ’n Groot deel van die uiteindelike opbrengs van jou belegging hang af van hoe jy irrasionele markskommelinge verwerk en bly fokus op die beleggingsdoelwit.

Jou suurdeegbrood, enkeloorsprongkoffie en daardie stoute Woolies-skyfies gaan net duurder word en die uiteindelike doel van enige belegging moet altyd wees om die inflasiedraak te verslaan.

Bevraagteken deurgaans jou belegging se relatiewe prestasie teenoor ’n billike maatstaf.

Dit is belangrik om perspektief te behou oor jou unieke opbrengs syfers gegewe die tydstip van die siklus waarin jy belê het.

Cassie Carstens
Show Buttons
Hide Buttons
Samuel Rossouw CFP®
(BCommHons; Adv PGDFP)
Wealth Manager
Director

Contact

True to company culture, Samuel strives to build solid long term relationships with clients and has a meticulous way of identifying needs, defining goals and compiling an executable plan to reach one's goals. He firmly believes that one has to be a specialist in one's field to be able to add value, and continuous training & education is therefore paramount. To be objective and to have an independent approach to a client's planning is critical to make a difference.

Born & bred on a farm in the Montague region, Samuel matriculated in 2001 from Montague High School. He completed his BComm Honours degree in Business Management as well as his Postgraduate & Advanced Diploma in Financial Planning. Samuel is a CFP charter holder. Apart from a short stint at an agricultural company Samuel has spent his whole working career with ProVérte. Samuel is a shareholder and valuable member of the board of directors of ProVérte.