Is this 2018 or 2008?
April 26, 2018
Is Ramaphosa = Good times ahead?
May 2, 2018

Is Cyril = Goeie tye vir jou sak?

Is Cyril = Goeie tye vir jou sak?

Oom GJ van der Merwe van Ceres het altyd gesê “ ’n vis vrot van sy kop af” . . . en hoe het ons dit nie in praktyk gesien die afgelope nege jaar nie!

Ons is uiteindelik ontslae van Jacob Zuma en dit is asof daar ’n nuwe huppel in Suid-Afrikaners se stappie is. Die toekoms, wat net ses maande gelede nog uiters donker gelyk het, met die gepaardgaande eindtyd-doemprofeetvoorspellings, lyk ewe skielik nie meer so duister nie.

Wat wel belangrik is om te weet, is dat ’n goeie storie nie altyd omskakel in finansiële voorspoed vir almal nie.

Net soos die gewilde voorspelling aan die einde van 2015 dat die rand op pad is na R20 per dollar en dat mense al hul geld oorsee moet neem, toe nie heeltemal soos beplan uitgewerk nie, kan die teenoorgestelde voorspelling dat Suid-Afrika ’n era van voorspoed en welvaart en ’n sterk rand binnegaan, ook nie heeltemal so uitwerk nie.

Wanneer jy dus keuses maak oor jou toekoms en beleggingstrategie sal ek aanraai jy probeer die huidige opgewondenheid ignoreer, net soos jy die pessimisme ses maande gelede moes ignoreer. Grond jou besluite op meer fundamentele beginsels met ’n baie langertermyn uitkyk as net die volgende jaar of vyf.

Dinge vaar nie outomaties beter nie

Beteken ’n “goeie” of gewilde president outomaties ’n sterker rand, ’n hoër ekonomiese groeikoers, ’n beurs wat beter vaar en ’n laer werkloosheidskoers?

’n Paar aanwysers oor die volwaardige termyne van die drie vorige president (Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Zuma) wys dit is ’n baie moeilike afleiding om te maak.

My persoonlike opvatting (en joune kan dalk verskil) van die laaste drie volwaardige presidentstermyne (met respek teenoor oudpres. Kgalema Motlanthe) was dat Mandela die beste/gewildste was, Mbeki iewers tussenin en Zuma verreweg die swakste.

As jy bloot na die syfers kyk, kan jy dalk tot ’n ander gevolgtrekking kom.

Mandela het in vier van die vyf kategorieë die “swakste” gevaar en Mbeki in vier van die vyf die beste.

Zuma vaar beter as Mandela

Zuma se prestasie lyk op die oog af, behalwe vir die massiewe verhoging in staatskuld, eintlik heel skaflik vergeleke met dié van Mandela.

En dis die probleem . . . wat jy sien is dikwels nie wat jy kry nie.

Gebeure in die internasionale kapitaalmarkte en die vertrekpunt vir ’n taksering van die rand en die markte het ’n wesenlik groter uitwerking op die resultaat as die gehalte van die president.

Die beleggingsghoeroe Warren Buffett het ’n gesegde wat lui: “Wanneer ’n maatskappy met ’n slegte reputasie en ’n uitvoerende hoof met ’n goeie reputasie bymekaar kom, is dit gewoonlik die maatskappy se reputasie wat sal staande bly.”

Wat ek hiermee probeer sê, is dat pres. Cyril Ramaphosa nogal groot uitdagings het en dat sy aanstelling as president ongelukkig nie alles oplos nie.

’n Paar kwalifiserende opmerkings en indrukke van my kant af gegewe die data hierby en waar ons ons tans bevind:

Moenie net in een rigting dink nie

Die rand is nou baie sterker as twee jaar gelede, maar hy kan nog sterker word.

’n Afgradering lyk nou onwaarskynlik terwyl Suid-Afrika se langtermynstaatseffekte ’n baie goeie opbrengs aan buitelanders bied.

Suid-Afrikaanse staatseffekte, waaraan niemand ’n jaar gelede wou raak nie, lyk nou na ’n aantreklike bateklas.

Waak egter daarteen om net in een rigting te dink. Soos genoem, word die rand baie geraak deur politieke bewegings op kort termyn, maar oor langer termyn is ons geneig om in die pas met ander ontluikende markte te beweeg.

Sien die korrelasies hierby.

Let op dat die korrelasie met Brasilië oor net die laaste agt jaar – dus van 2010 af – verhoog het na 98%. Mandela het president geword toe die JSE op ’n prysverdiensteverhouding (pv) van 19,23 was (dus baie duur) en Zuma het die leisels gevat toe dit op ’n pv van 10,48 was (baie goedkoop).

Die vertrekpunt is belangrik.

Die prestasie van ons beurs van so ’n lae grondslag af oor die afgelope nege jaar was eintlik baie teleurstellend.

Wat pv aanbetref, is ons mark tans op soortgelyke vlakke as toe Mandela oorgeneem het (met ander woorde op die oog af duur), maar die struktuur van ons mark het intussen so baie verander (spesifiek ten opsigte van Naspers en die mynbousektor) dat dit moeilik is om ’n ooreenkoms te tref en afleidings oor die toekoms te maak.

Ek sou wel waag om te sê dat jy van nou af met ’n aktiewe selektiewe proses beter behoort te vaar as om bloot die indeks te koop en te hou.

Ramaphosa neem die roer oor van ’n vliegtuig waarvan die vlerk vol gate geskiet is en die een enjin aan die brand is.

Hy lyk na ’n baie bekwame vlieënier, maar as jy ’n sagte landing verwag, is jy dalk irrasioneel.

Die maatreëls wat ingestel moet word om ons huis weer in orde te kry, gaan vir baie nie gemaklik wees nie.

Staatskuld is op rekordvlakke danksy Mnr. Zuma.

Die pa wat die luukse voertuig verkoop en oorsese vakansies afstel, is selde so gewild soos die een wat almal Disneyland toe vat. Ramaphosa gaan die eersgenoemde moet wees.

Min beweegruimte

Mbeki het aansienlik meer beweegruimte gehad wat monetêre en fiskale beleid betref om Suid-Afrika op ’n goeie pad te sit as wat Ramaphosa het. Rentekoerse is reeds relatief laag en belastingbetalers is tot by die keel belas.

Ramaphosa gaan moontlik meer druk ervaar as enigeen van sy voorgangers om die ongelyke verdeling van welvaart op te los. Om die balans tussen daardie vereistes, sy politieke party se voortbestaan en ’n ekonomies sinvolle pad te vind, is geen maklike taak nie.

Ten slotte: Moet om vadersnaam nie van bakboord na stuurboord probeer hardloop met jou beleggingsbesluite nie.

Dit bly my verstom hoe mense langtermynplanne verander op grond van drie maande of selfs ’n jaar se gebeure in die finansiële markte of erger nog, politieke skommelinge.

Bepaal wat jou langtermyndoelwit is, kry ’n strategie wat daarby sal uitkom en bly op koers.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel
Show Buttons
Hide Buttons