Inheritance: Here’s a plan
June 26, 2018
Pasop vir Jan Taks en rente opbrengste
July 19, 2018

Vererwing: Hier is ’n plan

Vererwing: Hier is ’n plan

In die eerste artikel oor vererwing deur middel van ’n groot lewenspolis (Kliek hier om meer te lees), het ek aangevoer dat mense “buite die boks” moet dink aangesien daar dalk ’n slang “binne die boks” is. Ek probeer vandag verduidelik hoe dit buite die boks kan lyk…

Laat ek begin deur te sê na my mening is die eerste prys (en dit is reeds hoe die meeste korporatiewe boere dit doen) om die boerdery presies soos enige ander onderneming te bestuur.

Die onderneming en winste behoort aan al die aandeelhouers (in dié geval die familie) en nie aan ’n uitverkore een of twee bloot op grond van geslag of volgorde van geboorte nie.

Die boerdery moet egter bestuur word soos enige maatskappy en daarvoor het jy mense nodig om die werk te doen.

Hiervoor moet jy hulle sinvol vergoed ooreenkomstig hul verpligtinge, bydraes en inisiatief.

Hierdie mense kan uit die geledere van familie kom of nié.

As hierdie roete gevolg word, is groot uitbetalings uit lewensversekering vir dogters of seuns wat nie kom boer nie natuurlik onnodig, want hulle deel in die winste (as daar is).

Indien die plaas of plase dan verkoop word, deel hulle ook in dié wins in gelyke dele.

Indien jy nie mede-aandeelhouers wil hê nie, staan dit jou vry om hulle uit te koop, maar dan seer sekerlik teen ’n billike prys.

Die gedagte dat een of twee kinders egter ’n groot bate in lewe “erf” sonder om daarvoor te betaal terwyl die ander kinders moontlik 30 jaar moet wag vir ’n onseker erfenis, is vir my so uitgedien soos openbare stenigings.

Ek aanvaar egter dat bogenoemde oplossing ’n groterige kopskuif is vir die meeste mense en dat dit wensdenkery is om te dink dit sal sommer vastrapplek in beplannings kry.

Kom ons kyk dus na alternatiewe maniere om vererwing te hanteer as die ander erfgename (wat nie die plaas erf nie) dan wel vergoed moet word.

Bepaal wat regverdig is

Dink mooi oor wat billik is teenoor al drie partye (pa, seun(s) wat kom boer en ander erfgename).

Is dit billik om die oorblywende kinders deur middel van ’n polis wat iewers in die verre toekoms uitbetaal, te vergoed?

En wat moet die bedrag wees?

In my ervaring dink mense nie grondig genoeg hieroor nie en is dit dikwels die gevolg van wat die erflater in daardie stadium meen bekostigbaar is om te betaal aan lewensversekering.

Dit is egter ’n baie gevaarlike strategie, soos ek in my vorige artikel aangewys het, want wat vandag bekostigbaar is, raak dikwels onbekostigbaar in die toekoms en die plan het geen aanpasbaarheid sonder wesenlike finansiële verliese nie.

Is die laaste prys per hektaar waarvoor grond verkoop is in die omgewing ’n sinvolle waardasiemaatstaf?

Ek glo nie so nie. Hierdie raak slegs relevant in ’n situasie waar grond verkoop word. In die meeste gevalle is die idee dat die seun gaan boer vir die volgende 20 of 30 jaar en dan weer die boerdery oorgee aan die volgende geslag.

Ek is van mening ’n verdiskonteerdekontantvloei- berekening is waarskynlik ’n meer regverdige maatstaf omdat plase oor die algemeen ’n baie lae opbrengs op aangewende kapitaal het.

Dit is onrealisties om te verwag die oorblywende erfgename moet ’n gelyke waarde aan die waarde van die grond (en plaaswerktuie) erf.

Hierdie metode van berekening het natuurlik ook sy tekortkominge (weens die feit dat jy aannames oor die verre toekoms moet maak), maar dit is ’n wesenlik beter alternatief as die duimsuigery wat tans aan die gang is.

Ek illustreer graag aan die hand van ’n voorbeeld wat inpas by die polisoplossing waarna ek in die vorige artikel verwys het. Die aannames en berekening van die “waarde” van die seun se erfenis volgens die verdiskonteerde-kontantvloei-model:

  • Ouderdom van kind wat oorneem: 35
  • Aftree / verkoop / oorgee ouderdom: 65
  • Gemiddelde geskatte normale jaarlikse inkomste (na belasting): R1 600 000
  • Verwagte groei in inkomste: 6%
  • Verdiskonteringskoers: 15%
  • Waarde van besigheid (afgerond): R16 000 000

Die verdiskonteringskoers is baie belangrik. Hoe meer riskant die onderneming (in hierdie geval ’n boerdery) en onseker die toekomstige winste is, hoe hoër behoort jou verdiskonteringskoers te wees. Jy sou waarskynlik tans ’n saak kon uitmaak vir ’n redelik hoë verdiskonteringskoers wat die “waarde” wesenlik sal verlaag.

Belê eerder vir die erfgename

In plaas van ’n polis uitneem, maak ’n belegging ten gunste van die erfgenaam(e).

Sodra ’n billike bedrag bereken is, belê bedrae (eenmalig en/of maandeliks) om die erfgename in die posisie te sit waar hulle by hul aftrede ’n soortgelyke belegging sal hê.

As dit wel ’n 7%-inflasie-eskalasie behels soos in die polisvoorbeeld, sou dit beteken die erfgenaam moet R139,4 miljoen kry wanneer hy/sy 65 is (om die koopkrag van R16 miljoen vandag te erf).

Om dit te kan doen, sal die seun wat boer ’n belegging (wat teen 11% groei) van R30 128 per maand moet maak (teenoor die polis se R17 516), maar wat jaarliks met 6% eskaleer in plaas van die reuse-eskalasies verbonde aan die polis.

In hierdie voorbeeld sal die polispremie binne sewe jaar die premie van die belegging oorskry en daarna raak die verskil op die kontantvloei-impak dramaties.

Pas plan aan na gelang van omstandighede

Omdat hier geen kontraktuele verpligting is om ’n spesifieke premie te betaal vir ’n onbepaalde tydperk nie, is daar ruimte vir aanpassing.

Die seun sou byvoorbeeld dus vinniger kon afbetaal indien dit moontlik is of ’n betalingsvakansie neem vir ’n jaar of wat indien dit nie anders kan nie.

Indien die plaas verkoop word, sou jy ook makliker die regverdigheidsbeginsel kon toepas as met versekering.

In ’n ekstreme geval van iets soos grondonteiening sou die geld wat opgebou is (verkieslik in ’n trust) byvoorbeeld weer aangewend kon word om regverdigheid toe te pas.

Hierdie “plan” is allesbehalwe perfek, maar soos my oorlede pa gesê het, ’n “dêm sight” beter as die polisplan.

Ek verkies steeds die benadering om die plaas soos ’n onderneming te hanteer, maar in die afwesigheid van daardie struktuur is hierdie na my mening ’n veel beter strategie as versekering.

Kortliks die hoofredes waarom ek so sê:

  • In geen stadium beteken ’n afwyking van die plan dat betaalde premies verlore raak soos

met die polisbenadering nie.

  • Daar is geen kontraktuele verpligting wat jou in ’n knyptang kan laat beland waaruit jy nie kan kom nie.
  • Die pa se gesondheid speel nie ’n rol in die premie wat jy moet betaal nie.
  • Geld kan van dag een af gebruik word om die ander erfgename se lewe te verbeter, byvoorbeeld deur die betaling van huisverbande, beleggingseiendom of selfs ’n maandelikse inkomste.
  • Pa hoef nie te sterf vir die plan om te werk nie.
  • Daar is sekerheid oor die termyn van die verpligting sowel as die premie-eskalasies. As die finansies dit toelaat, kan die verpligting vinniger afgelos word.
  • Met die polisplan word die erfgenaam se kinders dikwels “onterf” indien die erfgenaam voor die versekerde lewe sterf. Met die beleggingsroete is hierdie minder waarskynlik.

Hierdie is nie ’n geval van “een oplossing pas almal nie”. Elke geval moet op eie meriete beoordeel word.  ‘n Meer deurdagte proses behoort jou egter ruim te vergoed.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel
Show Buttons
Hide Buttons