Die afgelope drie jaar was die mark so onseker dat dit soms onmoontlik gevoel het om vertroue in ’n mens se beleggingsplan te behou. Jy was waarskynlik huiwerig om jou geld langer in groeibates te belê en het dalk besluit om dit eerder aan ’n “veilige” beleggingsvoertuig toe te vertrou.
Jy sou al tot vervelens toe gehoor het dat “groei nie in ’n reguit lyn kom nie”, maar meer met rukke en stote. Hierdie rukke en stote raak egter by tye geweldig ongemaklik en dit voel soms asof jy agteruit boer.
Wanneer jy dus op die radio of in die koerant verneem van ’n belegging wat rente van 10% waarborg, sonder enige markbewegings, klink dit na ’n baie aantreklike alternatief.
Soos baie dinge in die lewe, is jou eerste antwoord nie noodwendig die regte antwoord nie en is verdere ontleding nodig. Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel en wat tot verskillende gevolgtrekkings kan lei, soos jou marginale belastingkoers; jou huidige mandaat en jou langtermyngroeibehoeftes.
Die impak van belasting
Verstaan jy werklik die verskil tussen belasting op kapitaalgroei versus die belasting op rente-opbrengs?
Kom ek illustreer die uitwerking van belasting op ’n 10%-vaste-deposito-belegging van R3 miljoen teenoor dieselfde belegging in ’n gebalanseerde mandaat met ’n gemiddelde opbrengs per jaar van 10,8%.
Ek maak die volgende aannames
Nadat Jan Taks met jou klaar is, daal die opbrengs op jou vaste-deposito-belegging van 10% tot 6,41%.
Wat dus na ’n goeie belegging gelyk het, klop uiteindelik beswaarlik inflasie. In die gebalanseerde mandaat spring jy natuurlik nie vir Jan Taks vry nie, maar die impak is darem heelwat kleiner.
Daar is ’n groot verskil tussen belasting op rente-opbrengs en op kapitaalwins. Rente-opbrengs word jaarliks bygevoeg by jou aanslag vir die jaar of jy inkomste ontvang al dan nie. Elke individu kry ’n jaarlikse vrystelling van R23 800 onder die ouderdom van 65 en R34 500 bo die ouderdom van 65. As gevolg van die groot insluiting van rente by dieander belasbare inkomste skuif hierdie belegger op na die 39%-belastingkoers.
Hou in gedagte dat hierdie individu die groei op die belasbare gedeelte verloor aangesien Jan Taks hom verplig om dit jaarliks te betaal of hy dit ontvang het of nie, terwyl kapitaalwinsbelasting (KWB) slegs betaalbaar is by die verkoop van die belegging.
Die effektiewe KWB-koers is heelwat laer as belasting op rente. ’n Individu kry ’n jaarlikse korting van R40 000, en net 40% van die oorblywende kapitaalwins word getel by jou inkomste vir die jaar.
Dit kom daarop neer dat ’n individu moontlik tot 45% (die hoogste belastingkoers) sal kan betaal op sy rente-inkomste, maar tans nie meer as 18% (40% van die kapitaalwins x 45% – die hoogste belastingkoers) belasting betaal op kapitaalgroei nie.
Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat jy deur groeibates en rentedraende bates te kombineer die wisselvalligheid van jou beleggings baie verlaag, maar so ook die belastingimplikasies.
Die prys wat jy moet betaal om totaal van wisselvalligheid ontslae te raak, en derhalwe slegs in kontantinstrumente te belê, is egter hoog.
Hou in gedagte
Soos altyd is daar natuurlik ’n paar ander aspekte om in gedagte te hou, want ’n voorbeeld soos dié vertel die storie mos net uit een van ’n paar hoeke:
As jy wonder oor die belastingimplikasies van jou beleggings, vra ’n rekenmeester of gesertifiseerde finansiële beplanner om die verskille uit te wys. Dit kan en behoort ’n invloed op jou keuses te hê.
Elmie de Jager is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en ’n welvaartbestuurder van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak haar by info@proverte.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.