Tax on interest might be costing you
July 19, 2018
Offshore investments: Easier said than done
September 17, 2018

Buitelandse beleggings: Makliker gesê as gedaan

Buitelandse beleggings: Makliker gesê as gedaan

Ek wil my geld buiteland toe vat” is weereens die mees algemene versoek wat ons die afgelope paar weke by mense hoor.

Daar is al heelwat hieroor geskryf die laaste tyd – deur myself en ander kommentators – en natuurlik, seker soos dit hoort, stem almal nie 100% saam oor hierdie onderwerp nie.

Mense wat gereeld hierdie rubriek lees, sal weet dat ons al die afgelope dekade ten gunste van buitelandse beleggings (spesifiek aandele en eiendom) is en ons kliënte se portefeuljes weerspieël dan ook hierdie voorkeur.

Dié artikel is dus nie ’n “kom ons steek ons kop in die sand, alles is klopdisselboom”-storie nie, maar wel een wat die eensydige aanbeveling om soveel moontlik van jou bates buiteland toe oor te plaas, bevraagteken.

Vir konteks, kyk na die meegaande tabel met die historiese opbrengste (15 jaar) van die agt hoofbateklasse waarin beleggers kan belê.

 

Bron: GraySwan Wealth

Waarin belê jy?

Dit is een ding om te sê vat jou geld land uit, dit is ’n ander ding om te weet hoe so ’n portefeulje moet lyk.

Die probleem met buitelandse beleggings is dat die dollar-opbrengs op kontant en effekte so laag is dat as jy platform- en adviesgelde daarvan aftrek, jou kans op ’n positiewe dollar-opbrengs, en veral een wat beter gaan vaar as die Suid-Afrikaanse geldmark, baie laag raak.

Dit laat jou met buitelandse aandele en eiendom as alternatiewe om in te belê. Selfs al aanvaar ons hierdie bates bied tans goeie waarde vir geld (en dit is ten beste op blinde geloof gegrond, veral vir aandele) is ’n  portefeulje wat bestaan uit slegs buitelandse aandele en eiendom heeltemal te wisselvallig vir die gemiddelde belegger.

Kyk ook na die grafika hierby wat buitelandse bates se opbrengs (in rand) vergeleke met wisselvalligheid (wat gewoonlik as risiko beskou word) aandui.

In ’n “ideale” wêreld lê hierdie bates van links onder na regs bo op ’n denkbeeldige lyn (die sogenaamde “doeltreffendheidsgrens”) met die geldmark wat die laagste opbrengs lewer, maar ook die minste wisselvallig is, terwyl aandele en eiendom heel regs bo lê waar dit die wisselvalligste is, maar ook die beste langtermynopbrengs lewer.

Met die uitsondering van buitelandse eiendom en effekte wat op hul “regte” plek is, is die risiko/opbrengs-verspreiding vir buitelandse bates egter bykans omgekeerd. Die pyle op die grafika dui aan waar ’n mens dit sou verwag.

Vir mense wat die glas half vol sien, kan die feit dat buitelandse aandele amper die hoogste opbrengs oor 15 jaar gelewer het, maar dit teen die laagste wisselvalligheid gedoen het, bevestiging wees dat dit die plek is om nóú jou geld te sit.

Vir my is dit ’n aanduiding dat dit die regte plek wás vir jou geld die afgelope tien tot 15 jaar, en nie noodwendig vir die afsienbare toekoms nie.

Vir my dui dit op oorgerustheid en ’n onderskatting van risiko – iets wat gewoonlik in trane eindig.

Wat buitelandse kontant en effekte betref, lyk dit weer heeltemal onlogies om soveel wisselvalligheid te aanvaar vir die karige langtermynopbrengs wat dit gaan lewer.

Wat is jou motief vir die belegging?

As jou motief vir die belegging beter opbrengste is as wat jy plaaslik kry, gekry het of dink jy gaan kry – kan jy teleurgesteld wees.

As jy soos ek glo dat langtermyn-opbrengste deur jou vertrekpunt ten opsigte van waardasies bepaal word, gaan jy ’n taai tyd hê om jouself te oortuig dat jy nóú wesenlike blootstelling aan spesifiek buitelandse aandele moet kry en veral as jy dit in ’n indeksvolgfonds wil doen.

Heelwat mense met wie ek die afgelope week gesels het, se motief blyk egter nie suiwer opbrengs te wees nie, maar meer verskansing teen risiko.

Die retoriek oor grondonteiening sonder vergoeding het baie mense by die punt gebring waar hulle glo ’n Zimbabwe-tipe ­ toekoms is ons voorland en dat die blote bewaring van kapitaal die oorkoepelende voorkeur behoort te wees.

Hiervoor het ek begrip en indien dit werklik jou siening is, kan ’n meer konserwatiewe buitelandse portefeulje oorweeg word, maar jy gaan jou verwagtinge oor dollar- (en selfs rand-) groei in toom moet hou.

Wat jy sal moet doen, is om met jou finansiële beplanner te gesels oor die impak van hierdie laer potensiële opbrengste oor lang tydperke op die uitvoerbaarheid van jou plan.

Wat is jou tydshorison? Hoe lank gaan jou geld in die buiteland wees? Is hierdie geld wat jy “permanent” daar kan los of moet jy een of ander tyd daarvan leef?

As jy dit uitneem hoofsaaklik om sekuriteitsredes, wat moet in Suid-Afrika gebeur om jou te oortuig om dit terug te bring?

Hou in gedagte

Verstaan my korrek: Ek sê nie dit is ’n fout om ’n wesenlike deel van jou geld in die buiteland te hê nie. My ervaring is dat die meeste Suid-Afrikaners geheel en al onderblootgestel is aan buitelandse bates. Jy moet net seker maak van jou motiewe en verwagtinge om teleurstelling te vermy.

Praat met jou finansiële adviseur oor die opsie van regstreeks buitelands versus bate-ruil. Laasgenoemde bied in die meeste gevalle miskien ’n sinvoller oplossing.) Jou buitelandse blootstelling behoort die uitkoms van ’n portefeulje-konstruksie-proses te wees en nie die gevolg van ’n emosionele reaksie op nuusvloei nie.

Wanneer beleggingsbesluite gemaklik of reg vóél, is die uitkoms gewoonlik nie goed nie. Die aard van beleggings is juis dat die beste geleenthede lê in gebiede wat in die onlangse verlede groot ongemaklikheid veroorsaak het.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons