Hier is ‘n paar faktore om te oorweeg voordat jy besluit
Deur Andró Griessel
19 Okt 2019
‘n Leser stuur die ander dag vir my ’n e-pos met die volgende vraag:
“Ek het besluit ek wil nie die volgende klomp jare in aandele belê wees nie, nêrens nie. Ek vertrou niemand meer nie, nie nou nie en ook nie gou weer nie. Ek het besluit geldmark- en inkomstefondse gaan my ná belasting nie teen inflasie beskerm nie.
“Toe het ek ’n dapper (of dom) besluit geneem om 80% van my geld te vat en ’n gesamentlike lyfrente vir my en my vrou te koop. Dit verminder met 33% by die dood van die eerssterwende en groei met die verbruikersprysinflasiekoers.
“Eintlik wil ek vra hoekom is hierdie nie ’n goeie plan vir baie afgetredenes nie – behalwe nou vir diegene wat reeds ’n vaste pensioen het of diegene wat regtig baie geld het.”
Eenvoudig: Dis gemoedsrus
Ná die afgelope vier, vyf jaar se powere opbrengste is daar al hoe meer mense wat hierdie vrae vra, om verstaanbare redes. My instinktiewe antwoord op vrae soos dié is dat jy moet onthou jy het te doen met ’n maatskappy met winsbejag. Die oomblik dat jy so ’n kontrak sluit, gaan jy ’n weddenskap aan met die maatskappy se aktuarisse oor jou en jou gade se lewensverwagting, inflasie en opbrengste.
Nou, dit is soos ’n rugbywedstryd tussen Japan en Suid-Afrika . . . Japan kan wen, maar dit gaan nie die gereelde uitslag wees nie.
Die oorkoepelende voordeel van lyfrente bo ’n lewende annuïteit of ’n diskresionêre belegging waaruit jy maandeliks geld onttrek, is oorweldigend die gemoedsrus dat jy jou nie oor die giere van die mark hoef te bekommer nie.
Dít behoort baie duidelik uit die leser se skrywe hierbo te blyk. Waarom sal ’n mens dan die ongemak van markbeleggings verduur?
As jy self die risiko dra
Kom ons kyk vlugtig na ’n paar potensiële uitkomste van die alternatief – ’n belegging waar jy self die risiko dra. Let wel: Laasgenoemde is die roete wat die meeste mense willens en wetens volg.
In my voorbeeld veronderstel ek ’n afgetredene van 71 jaar oud met R7 miljoen tot sy/haar beskikking en ’n inkomstebehoefte van R40 000 per maand.
Die grafiek wys selfs bloot uit die oogpunt van die behoud van kapitaal is dit nie so ’n eenvoudige besluit om self jou geld te bestuur nie, want soos die grafiek aandui, sal jou geld teen ouderdom 92 opdroog as albei nog leef; en selfs al sou die een sterf op 85 (met ’n gepaardgaande 33%-afname in inkomste), sal die oorblywende lewensmaat se kapitaal op 96 uitgeput wees.
Om 4,5 persentasiepunte beter as inflasie te vaar ná koste en belastings, is heeltemal doenbaar, maar dit gaan nie geskied in ’n omgewing waar jy minimale risiko/wisselvalligheid wil aanvaar nie. ’n Portefeulje wat dit moet vermag, sal vir jou oor die jare ’n behoorlike dosis slapelose nagte veroorsaak.
Anders as hierdie mooi egalige Excel-model hier bo, kom daardie 4,5% bo inflasie geensins in ’n reguit lyn nie. In die afgelope tien jaar sou so ’n belegging enigiets van -9% (2017-2018) tot +25% (2012-2013) opgelewer het oor ’n jaar-tydperk.
Daar is altyd ’n ‘maar’
As ’n mens na bogenoemde kyk, begin die skaal beduidend in die rigting van ’n lyfrente kantel, maar helaas is daar ’n paar praktiese implikasies en aspekte om in gedagte te hou:
Hieraan moet mense ongelukkig hul totale kapitaal toevertrou, wat hulle kontantloos los (uiters ongewens). In die geval hier bo het die leser slegs 80% van sy geld (wyslik so) gebruik om ’n lyfrente te koop.
Die ironie is egter dat as hy die 20%-surplusgeld tel by sy kapitaalwaarde, sou hy in ’n diskresionêre omgewing nou slegs ongeveer 3 persentasiepunte beter as inflasie moes vaar om sy geld tot op ouderdom 100 te laat hou.
Ten slotte
Die leser vra heeltemal tereg “waarom word lyfrente nie meer gereeld” as ’n opsie deur adviseurs op die tafel gesit nie? Dit is beslis ’n potensiële oplossing wat deel van die gesprek moet uitmaak, maar soos alles behoort dit pasgemaak te wees vir die belegger se eie voorkeure, finansiële posisie, finansiële geletterdheid en gesondheid.
Vir mense wat uit geldmark-of inkomstefondse probeer leef of hul beplanning sonder die hulp van ’n vaardige finansiële beplanner aanpak, is dit iets wat na my mening baie ernstig oorweeg moet word.
Wat egter baie belangrik is om te noem, is dat lyfrente is nié ‘n towerstaf vir mense wat nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
True to company culture, Samuel strives to build solid long term relationships with clients and has a meticulous way of identifying needs, defining goals and compiling an executable plan to reach one's goals. He firmly believes that one has to be a specialist in one's field to be able to add value, and continuous training & education is therefore paramount. To be objective and to have an independent approach to a client's planning is critical to make a difference.
Born & bred on a farm in the Montague region, Samuel matriculated in 2001 from Montague High School. He completed his BComm Honours degree in Business Management as well as his Postgraduate & Advanced Diploma in Financial Planning. Samuel is a CFP charter holder. Apart from a short stint at an agricultural company Samuel has spent his whole working career with ProVérte. Samuel is a shareholder and valuable member of the board of directors of ProVérte.