Who are the latest winners?
February 12, 2020
Die spook van 2008 loop
March 23, 2020

Wie is die volgende wenners?

Wie is die volgende wenners?

Buitelandse aandele vaar beste in 2019, maar…

Deur Andró Griessel

11 Jan 2020

As jy die indruk gekry het dat jou beleggings ’n bietjie kop opgetel het in 2019, is jy reg. 2019 was vir die gemiddelde belegger waarskynlik die beste jaar sedert 2015.

Daar moet wel gesê word dat dit van ’n lae vertrekpunt was en dat dié momentum behou sal moet word as die aaneenlopende 12-maande-syfers oor vier of vyf maande steeds goed wil lyk.

Sien hierby die bygewerkte bateklasopbrengste sedert 1995.

 

Die oranje in elke gegewe jaar dui die bateklas aan wat die swakste gevaar het en die blou toon daardie jaar se beste presteerder aan. Alle groeisyfers is reeds in rand omgeskakel.

Buitelandse aandele en buitelandse eiendom het in 2019 die beste gevaar terwyl buitelandse kontant die swakste en buitelandse effekte die derde swakste gevaar het.

Die goeie prestasie van buitelandse bates was dus nie soos dikwels vantevore danksy ’n rand wat baie verswak het nie, maar ten spyte van ’n rand wat sterk was. Die waardes van sowel buitelandse eiendom as aandele het dus baie gestyg in hul basis-geldeenheid.

Suid-Afrikaanse aandele en effekte het ’n baie verdienstelike vertoning gelewer en veral aan pensioenfonds- en annuïteitbeleggers (op grond van die groot blootstelling hieraan vanweë Regulasie 28) ’n welkome blaaskans gegee ná ’n vierjaartydperk van baie lae opbrengste.

Suid-Afrikaanse kontant sou weer eens ná belasting (vernaam as jy op ’n hoë belastingskaal is) beswaarlik inflasie kon klop.

Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom het, hoewel dit baie gedaal het in 2018, nie daarin geslaag om kop op te tel in 2019 nie. Hierdie bateklas weerspieël na my mening wesenlik beter hoe sleg dit met gewone mense gaan as wat Suid-Afrikaanse aandele aandui. Hierdie pyn kan dalk nog ’n rukkie duur.

Prestasie oor langer termyn

Oor 25 jaar was Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom (ten spyte van die afgelope vyf jaar se treurige prestasie) steeds bobaas onder alle bateklasse en die geliefde dollar steeds die swakste.

Hiervan kan jy ongelukkig nie aflei dat dit waar gaan wees vir die volgende 25 jaar nie.

Die afgelope dekade kon slegs buitelandse aandele en buitelandse eiendom daarin slaag (om ná koste) dubbelsyfergroei op te lewer.

Hulle het heelwat beter as die res gevaar. Hierdie punt word deesdae amper daagliks op al wat ’n finansiële platform is aangehaal. Selfs sekere gerespekteerde fondsbestuurders het (na my mening) geswig voor die wortel van “maklike geld” deur eenvoudig hul bemarking te fokus op hul buitelandse fondse en mense wat nóú in hierdie bateklas wil belê, met ope arms te verwelkom.

Ek is van mening dat die gebruik van die afgelope tien jaar se syfers as vertrekpunt vir besluitneming, gekoppel aan die retoriek dat “Suid-Afrika die volgende Zimbabwe is”, ’n hele reeks denkfoute behels.

Ek sal graag hierdie gewraakte stelling later meer volledig wil behandel in ’n afsonderlike artikel, maar as vertrekpunt rig ek lesers se aandag op die volgende:

Kyk gerus na die vier jaar reg aan die begin van die tydperk onder oorsig, naamlik 1995 tot 1998.

Die Suid-Afrikaanse aandelebeurs het oor hierdie tydperk ’n skamele 1,08% per jaar opgelewer terwyl buitelandse aandele gemiddeld met 34,5% per jaar gegroei het.

Die rede hiervoor was vir baie mense so helder soos daglig en baie eenvoudig: “Die ANC het nie ’n idee wat hy doen nie. ’n Beleid soos swart ekonomiese bemagtiging is die hoofrede waarom die JSE so swak vaar vergeleke met die buiteland.”

Nog ’n rede was dat “ontluikende markte se skuldvlakke eenvoudig te hoog is en hulle een vir een gaan begin ineenstort”.

Teen die millennium-wending sou jy makliker erken het jy steel weeskinders se kos uit hul mond as om te erken dat jy nog énige geld in Suid-Afrika het – alles móés eenvoudig land uit.

Klink dit bekend?

In die daaropvolgende 14 jaar (tot einde 2012) het die JSE egter ’n gemiddelde opbrengs van 19,29% per jaar gelewer teenoor buitelandse aandele se 6,15% per jaar. As ons dieselfde gedagtegang as hierbo volg, hoe was hierdie ommekeer moontlik?

Hoewel bangmaakstories of eenvoudige verduidelikings vir ons aanloklik klink as ’n antwoord op komplekse en multidimensionele probleme, is dit die verkeerde benadering.

Glo my, ek wens dit was so eenvoudig soos om die onlangse verlede te ekstrapoleer in die verre toekoms in, maar dit is helaas nie hoe dinge werk nie.

Ek is steeds nie seker die kombinasie van lae langtermynopbrengste gekoppel aan groot wisselvalligheid maak op vir die feit dat hierdie bates negatief gekorreleer is met veral Suid-Afrikaanse groeibates nie. Ek verkies steeds Suid-Afrikaanse kontant en effekte as stabiliseerders in ’n portefeulje bo hierdie twee bate-klasse.

Tog kan albei hierdie bateklasse in randterme vanjaar goeie opbrengste lewer.

Oor die afgelope 25 jaar sou net Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom en buitelandse genoteerde eiendom (hoë risiko) beter gevaar het as ’n gediversifiseerde portefeulje met 25% in buitelandse aandele, 10% in buitelandse eiendom, 10% in buitelandse effekte, 25% in plaaslike aandele, 10% in plaaslike eiendom en 20% in plaaslike effekte wat eenvoudig jaarliks herbalanseer word na hierdie gewigte ongeag van wat in markte aangaan.

Tog sien ek amper niemand met so ’n portefeulje wat dit net uitlos en nou en dan herbalanseer nie. Almal jaag die pot goud aan die einde van die reënboog met uiters bedenklike langtermynuitkomste.

Ek sluit af met dieselfde holruggeryde perd as altyd: Spaar jou asem om te probeer voorspel watter bateklas met die louere gaan wegloop in 2020. Stel eerder ’n portefeulje op wat (a) op lang termyn die regte bestanddele het om jou doelwitte/verlangde opbrengs te verwesenlik, (b) in ’n verskeidenheid van veranderlikes en veranderende omgewings kan oorleef en (c) meet dan minstens jaarliks jou vordering teen jou doelwit.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons