Dit kan tot swak besluite lei wat jou duur te staan kom
Deur Andró Griessel
16/5/2020
In tye van ekstreme onsekerheid raak die meeste van ons aansienlik meer vatbaar vir beïnvloeding en is ons geneig om kundiges se menings of advies sonder bevraagtekening te volg.
Wanneer ek dus ’n artikel sien met ’n opskrif soos “JSE een van swakstes in die wêreld”, bekommer dit my ’n bietjie, want as dit op sigwaarde geneem en nie in konteks geplaas word nie, kan dit jou daartoe lei om besluite te neem wat moontlik tot jou nadeel kan wees.
Die volgende stelling word dan ook in die promosie-artikel gemaak: “Tien jaar later is die sprokiesverhaal verby, met die JSE wat die afgelope dekade een van die swakste beurse ter wêreld was met negatiewe opbrengste oor daardie termyn en oor die afgelope vyf jaar negatiewe opbrengste – ook in randwaarde.”
Gun my die geleentheid om die prentjie volledig in te vul:
Sien hiernaas die prestasie van 17 lande (tien ontwikkelend en sewe ontwikkeld) se beurse in hul eie geldeenheid oor die afgelope dekade. Ek het bloot die tien grootste ontwikkelende markte geneem en sewe van die gewildste emigrasie-bestemmings vir Suid-Afrikaners (waarskynlik nie toevallig nie, almal ontwikkelde lande).
Bron: Portfoliometrix, Financial express & https://data.worldbank.org
Op hierdie lys het Suid-Afrika die derde beste (uit al 17) gevaar ten opsigte van nominale groei, die vyfde beste ná inflasie en die tweede beste van al die ontwikkelende markte.
Volgens my data het Suid-Afrika wel ’n skamele 0,43% per jaar in dollarterme opgelewer oor die afgelope tien jaar. Dit is egter steeds vyfde uit tien ontwikkelende lande. Thailand het die beste gevaar met 6,38% per jaar en Brasilië die swakste met -6,61% per jaar.
Oor die afgelope vyf jaar het 65% van betrokke lande (onder meer ook Brittanje, Australië, Duitsland en Kanada) negatiewe opbrengste in dollarterme opgelewer.
Ek dink die volgende is belangrik om uit te lig:
Wanneer die kommentator in bogenoemde berig verwys na die swak prestasie van die JSE, is dit hoofsaaklik hiérdie prentjie wat hy in gedagte het. Bo en behalwe die inligting wat ek reeds uitgelig het, is dit belangrik om die volgende ook te noem:
Markte, en dikwels ook die rotasie tussen ontwikkelde en ontwikkelende markte, is siklies en om onder- of oorprestasie te ekstrapoleer in die verre toekoms in, is eenvoudig nie wys nie.
Vir konteks, sien hiernaas ook presies dieselfde indekse se prestasie in die voorafgaande dekade. Die rolle was presies omgeruil. Na my mening is ’n herhaling hiervan baie moontlik.
’n Meer betroubare aanduider van welvaartskepping of -vernietiging is wat jou opbrengs ná plaaslike inflasie (met ander woorde die reële opbrengs) was.
As jou geldeenheid permanent devalueer, sal jou inflasiekoers ook die hoogte inskiet.
Veral die uitsluiting van minderheidsgroepe vir noodhulp vanaf die staat te midde van die staat van inperking, is ’n wesenlike wekroep. Hierdie realiteit het bepaalde implikasies vir hoe jy jou kapitaal (werkskapitaal sowel as opgehoopte welvaart) toewys en veral hoe jy dink oor die likiditeit al dan nie daarvan.
Ek wil my egter verstout om te sê dat ons beter planne sal moet maak as om eenvoudig agter die VSA se geldeenheid en beurs aan te hardloop terwyl dit teen huidige vlakke verhandel.
Jy beskerm nie jou welvaart deur oorgewaardeerde bates teen ’n wisselkoers-premie te koop nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.