How to adjust your retirement plan
July 6, 2020
When your income starts to dwindle…
July 13, 2020

As jou inkomste krimp…

As jou inkomste krimp…

Dis swaar tye dié vir konserwatiewe beleggers

Deur Cassie Carstens

27 Junie 2020

Onder die drie grootste geldmark-fondse (Absa, Ninety One en Allan Gray) en die drie grootste inkomstefondse (Coronation Strategic Income, Prescient Income Provider en Nedgroup Investments Flexible Income) is daar nie minder nie as R250 miljard belê.

Hierdie opsies word benut vir ’n legio behoeftes – van die korttermynparkering van geld (hoofsaaklik op die geldmark) tot die boublokke van batetoewysing in meer konserwatiewe portefeuljes.

Maar mense wat hierin belê, kan hulle tans en vir die afsienbare toekoms tussen die duiwel en die diep blou see bevind.

Die wêreldwye fiskale en monetêre stimuluspakkette weens die koronaviruspandemie – waaronder die drastiese verlaging in die Suid-Afrikaanse repokoers van 6,5% aan die begin van die jaar tot 3,75 % tans – het daartoe gelei dat die opbrengs op korttermyn- (“veilige”) rentedraende instrumente geval het tot ’n vlak waar jy ná belasting gaan sukkel om inflasie te klop.

Beleggers wat hierdie fondse gebruik om ’n inkomste te genereer, sal in reële terme redelik vinnig agteruit boer. Hulle moet baie mooi verstaan dat die speelveld verander het en hul beplanning ’n harde hou in die maag gegee het, baie soos mense in meer aggressiewe beleggings van tyd tot tyd ervaar wanneer markte baie daal.

Die verskil is egter dat markte dikwels vinnig herstel en hierdie beleggers die opsie het om hul inkomste eers elders te onttrek terwyl hulle hul beleggings kans gee om te herstel.

By vasterentebeleggings kan jy nie jou geld skuif na meer aggressiewe beleggings om die konserwatiewe deel van jou portefeulje ’n blaaskans te gee nie.

Om vet op die vuur te gooi, het beleggers in vasterentebeleggings kapitaalverliese gely in Maart. Die Coronation Strategic Income-fonds was byvoorbeeld 6,87% laer op 22 Maart as op sy piek net ’n paar dae vantevore.

Sien die tabel hierby met die huidige opbrengste op die grootste geldmark-fondse. Hierdie koerse sal oor die volgende maande waarskynlik verder daal.

Opbrengste wat so baie daal, lei amper sonder uitsondering na gedrag wat ons noem “reaching for yield”. Dit is hierdie soeke na meer opbrengs sonder om meer risiko (uit jou perspektief) te neem wat beleggers lei na bedenklike beleggingskemas.

Wat is die alternatief?

Jy moet eerstens besluit hoekom jy laerisikoblootstelling wil hê. Vir ’n noodfonds maak dit sin, maar indien jy dit as deel van ’n langtermynplan hou, moet jy dit moontlik heroorweeg.

Wat is ’n risiko?

Korreksies is pynlik, maar tipies vinnig van aard. Bulmarkte duur baie langer en begin gewoonlik net ná ’n korreksie. Die groot dalings in markwaardes veroorsaak dikwels ’n persepsie van onaanvaarbare risiko terwyl ’n skerp daling in inkomste uit konserwatiewe beleggings vreemd genoeg nie in dieselfde lig gesien word nie.

Die een neem jou kapitaal eensklaps en die ander oor ’n langer termyn, maar moenie ’n fout maak nie, albei hou implikasies vir die beskerming van jou welvaart in.

Die meegaande grafiek wys dat aandele ’n hoër waarskynlikheid het om beter as die geldmark te presteer as dit tyd gegun word om te groei. Jou beleggingshorison behoort dus ook deel van jou besluitneming uit te maak.

Verstaan my asseblief korrek:

Die gedagte is nie vir mense wat tans 100% in die geldmark of ander rentedraende instrumente belê is om 100% in meer wisselvallige bateklasse soos aandele en eiendom te begin belê nie, maar wel dat ’n sekere persentasie blootstelling aan hierdie bateklasse nie net sinvol nie, maar ook noodsaaklik kan wees.

’n Kombinasie van inkomstefondse en lae-aandelefondse kan ’n goeie alternatief wees.

Die idee van ’n inkomstefonds is dat jy ’n opbrengs beter as geldmark kan genereer sonder om wesenlik meer risiko aan te gaan. Dit word reggekry deur gebruik te maak van effekte (staats, korporatief en inflasiegekoppel), vastekoers- of veranderde koers kontant-instrumente, voorkeuraandele, genoteerde eiendom, valutaverskansing en so meer.

Soos altyd moet en kan beleggers nie goedsmoeds veranderings aan hul strategie aanbring nie. Jy moet behoorlike gesprekke oor jou spesifieke situasie hê met iemand wat die nodige kennis van hierdie opsies het.

Hierdie skep ongelukkig ’n verdere uitdaging en dit is dat met hierdie lae toekomstige opbrengste is die bydrae van adviesgelde (as ’n persentasie van die totale opbrengs) nou amper 50% méér vergeleke met jou totale opbrengs (indien die opbrengs daal van 9% per jaar tot 6% per jaar en die adviesgelde 0,5% per jaar beloop.

Dit is dus baie belangrik dat die waarde wat jy uit die verhouding kry heelwat meer is as om net elke jaar ’n koppie koffie saam te drink.

Ten slotte: ’n Baie groot gevaar met ’n beleggingsportefeulje lê daarin as jy ’n strategie volg waar jy aan een uitkoms vasgeanker is. ’n Besluit om alles in die geldmark te hou, 100% te belê in die buiteland of net in eiendom, sal veroorsaak dat een verandering (byvoorbeeld rentekoersdalings) jou portefeulje vinnig handomkeer kan verander.

Jy kan beslis gebruik maak van inkomstefondse as ’n boublok, maar nie met 100% van jou kapitaal nie.

Suid-Afrikaners bly uniek.

Ons moet herhaaldelik dinge soos beurtkrag, rommelstatus, dag zero-watersituasies en nou die koronaviruspandemie oorkom – en elke keer doen ons dit.

Dieselfde dikvelligheid asook ’n beter begrip van waarin jy belê, kan help dat jy steeds jou langtermynbeleggingsdoelwitte behaal.

Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van ProVérte Wealth & Risk Management. E-pos info@proverte.co.za

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons