When your income starts to dwindle…
July 13, 2020
Teach your children to fish
July 22, 2020

Leer jou kinders visvang

Leer jou kinders visvang

Sodoende gee jy vir hulle ’n reuse voorsprong in die lewe

Deur Andró Griessel

9 November 2019

Daar is ’n ou gesegde wat lui: As jy aan ’n honger mens ’n vis gee, help jy hom vir ’n dag. As jy hom leer om vis te vang, help jy hom vir ’n leeftyd.

In dié artikel is vis ’n metafoor vir geld. Ek sien baie ouers wat vir hul kinders kruiwaens vol vis gee, maar nie ’n visstok in die hand stop nie.

Dis alles goed en wel as die vis volop is, maar jy moet jouself afvra of jy nie dalk jou kind met potensiële hongersnood opsaal die dag as die vis vrot, die skuur afbrand of ’n dief die vis in die nag kom steel nie.

Deur jou kinders van kleins af sekere beginsels oor geld te leer, kan jy vir hulle ’n reusevoorsprong in die lewe bewerkstellig.

Enkele van hierdie beginsels:

Leer hulle wat uitgestelde vergoeding is

Onmiddellike bevrediging is waarskynlik een van die grootste euwels van ons tyd. Veral sosiale media leer ons dat alles in ’n kits moet gebeur. Vir 99,9% van ons (of jy dit nou wil weet of nie) is daar egter nie kortpaadjies na sukses (in enige gebied) nie.

Aftreebeplanning is seker die moeder van uitgestelde vergoeding.

Jy moet jouself vandag baie ontsê sodat jy oor 30 jaar van nou af met gemoedsrus kan ophou werk.

Nodeloos om te sê, min mense slaag daarin om hierdie dissipline toe te pas. Deur jou kinders te laat spaar en derhalwe ’n geruime tyd te wag vir iets wat hulle wil hê, is ’n baie belangrike les.

Dit leer hulle dat enigiets wat die moeite werd is om te hê gewoonlik nie onmiddellik bekombaar is nie en dit verhoed dat “het nodig” met “wil hê” verwar word.

Wanneer iets nie ’n noodsaaklikheid is nie, maar ’n lekkerte, en daar moet ’n rukkie daarvoor gewag en gespaar word, vervaag die drang om dit te hê dikwels.

Leer hulle die verskil tussen ’n kraan en ’n kruik

Baie kinders dink oor geld soos hulle oor water uit ’n kraan dink. Mense voel nie sleg om ’n kraan oop te los nie, want die water wat daaruit stroom, is mos “oneindig”.

Jy kan teoreties ’n kraan dae lank oop los en die water wat daaruit kom sal nie opraak nie.

’n Kruik met water is egter ’n ander storie. As dit op is, is dit op!

Ek kry die gevoel dat baie kinders deesdae dink die geld wat van hulle ouers af kom, is van ’n kraan eerder as ’n kruik afkomstig is.

Na my mening is die beste manier om hierdie probleem op te los, om in plaas van toegang tot ’n kraan wat hulle net oopdraai soos benodig, eerder vir hulle ’n kruik te gee en hulle te leer om daarmee uit te kom totdat die kruik weer volgemaak kan word.

Kinders moet van kleins af leer om vir lang tydperke uit te kom met hul geld. Die kraan mag nie as rugsteun dien vir die kruik nie. As jou kind se geld dus in die middel van die maand op is, is dit maar taai tye.

Dit klink dalk wreed, maar glo my, hierdie les word redelik vinnig onder die knie gekry as dit reg toegepas word.

Soos wat jou kinders ouer word en selfstandiger raak, brei hul finansiële verantwoordelikhede uit soos jy vir hulle meer sakgeld gee.

Leer jou kinders die beginsel van saamgestelde groei en geleentheidskoste

Dié beginsel is vir niemand belangriker om te snap as ’n 15-jarige nie, want vir hulle is die implikasies merkwaardig.

Iemand wat 15 jaar oud is, het sowat 50 jaar tot aftrede. As hulle die implikasie van beleggings wat eenkant gehou word vir 50 jaar verstaan, sal hulle waarskynlik minder gretig wees om die geld te blaas op onbenullighede.

R30 000 vandag wat groei teen 12% per jaar oor 50 jaar word R8,67 miljoen of sowat R750 000 in vandag se geldwaarde.

Wanneer jou laaitie in gr. 10 dus na jou kom met 110 redes hoekom hy ’n motorfiets móét hê wat argumentsonthalwe R30 000 kos, dan kan jy vir hom die opsie voorlê om hom nou R30 000 te gee vir die nuwe motorfiets of R15 000 nou (vir ’n tweedehandse een) en R4,3 miljoen by aftrede!

Wanneer ’n mens die implikasie van besteding op hierdie manier verstaan, verander die dinge waaraan jy voorrang gee.

Dieselfde beginsel geld natuurlik vir troues. Deesdae is troues van oor die R500 000 nie meer ’n snaaksigheid nie. Dink vir ’n oomblik wat die somme op hierdie besluit is.

Mislukking het finansiële implikasies

My swakste jaar op universiteit was die eerste jaar toe dit my nie ’n sent gekos het nie omdat my ouers betaal het.

Dit kan sekerlik toevallig wees, maar die oomblik toe ek ’n studentelening moes uitneem en besef dat elke vak wat ek moet herhaal my geld gaan kos, het dit beter gegaan.

Die meeste ouers dink die belangrikste ding wat hulle vir hul kinders kan doen, is om vir ’n goeie opvoeding te betaal. Dit is waarskynlik so, maar as die kinders nie die finansiële pyn van mislukking of ’n gedurige verandering in studierigting aan hul eie bas voel nie, help jy hulle nie werklik nie.

Uiterlike vertoon is nie dieselfde as welvaart nie

Die uiterlike vertoon van welvaart is nie gelyk aan welvaart nie. Dit weet ons as grootmense, maar ek is seker veral tieners kan nie hierdie onderskeid tref nie.

Probeer om vir jou kind die regte waardes ten opsigte van geld te leer. Dit is veral moeilik as jy finansieel geseënd is, want jou kinders word in welvaart en weelde groot.

Kinders moet egter leer dat weelde die vrugte van welvaart is en nie ’n bestanddeel vír welvaart is nie. Dis die hoender-en-eier-beginsel. Jy moet eers die hoender hê voordat jy eiers kan kry.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons