Is your porridge too cold?
August 17, 2020
Afdraandes het ook bulte
September 23, 2020

Val jou ‘Pap’ op die grond?

Val jou ‘Pap’ op die grond?

Persoonlike aandele-portefeuljes maak selde sin

Deur Andró Griessel

8 Augustus 2020

Een van my gunstelingstories uit my kinderdae was Goue Lokkies en die drie bere. My kindergesiggie het veral gestraal as die verteller sy of haar stem verander na gelang van watter beer praat en dan byvoorbeeld in ’n diep Pappa Beer-stem sê: “Iemand het van my pap geëet.”

In die beleggingswêreld is daar ook ’n “Pap”, in die vorm van Persoonlike Aandele-portefeuljes, en soos met Goue Lokkies se ervaring is baie van die Pap te warm of te koud en die Pap wat net reg is, is maar dun gesaai.

Dit is amper ongewoon om ’n welgestelde kliënt raak te loop wat nie ’n persoonlike aandeleportefeulje het nie. Die aantrekkingskrag is verstaanbaar en ietwat moeilik om te weerstaan wanneer jy jou sake mooi agtermekaar kry ten opsigte van jou normale aftree-beplanning.

Dan is daar ook altyd die storie van oom Piet aan tannie Marie se kant van die familie wat skatryk geraak het uit sy Rembrandt- aandele – en jy hoop jy sal dit ook regkry.

Die werklikheid is ongelukkig minder inspirerend.

Om oor lang tydperke beter te vaar as ’n passiewe indeks (waar die groot wenners outomaties ingesluit is) of ’n fondsbestuurder (waar slim mense die koring van die kaf probeer skei), is bedrieglik moeilik.

Voeg hierby die legio kognitiewe vooroordele waarmee ons as beleggers gekonfronteer word, en jy kan verstaan waarom die teorie en praktyk soms baie verskillend lyk.

My belangrikste gewaarwordinge oor ’n persoonlike aandeleportefeulje is die volgende:

  • Portefeuljes wat die beste vaar, is gewoonlik die hoogs gekonsentreerde portefeuljes wat mense geërf of via ’n werkverbinding met ’n maatskappy (soos Naspers of Capitec) bekom het en dit nooit verhandel het nie.
  • Goed gediversifiseerde portefeuljes (meer as 15 aandele) se vertoning klop selde dié van ’n indeks of ’n goeie fondsbestuurder, hetsy dit deur ’n aandelemakelaar of die belegger self bestuur word.
  • Kapitaalwinsbelasting (KWB), of meer spesifiek die vermyding of uitstel daarvan, neig dikwels (verkeerdelik so) om sinvolle besluitneming wesenlik te belemmer.
  • Daar is dikwels geen identifiseerbare proses wat gevolg word behalwe om aandele waarvan die pryse daal, te verkoop en die waarvan pryse styg, te behou nie. In die afwesigheid van nuwe geld wat bygevoeg word, raak portefeuljes dus dikwels baie gekonsentreerd en moontlik hoogs riskant.
  • Ek het nog niemand teëgekom (ek sê nie dit bestaan nie) met ’n gedokumenteerde verhandelingstrategie, veral oor wanneer om te verkoop, wat streng nagevolg word nie. Die gebrek hieraan het daartoe gelei dat talle mense byvoorbeeld die Steinhoff-hysbak tot heel onder gevat het.
  • Oor die algemeen weet die belegger nie wat die interne opbrengs op sy portefeulje is nie en kan hy dus nie oordeel of hy besig is om sy welvaart aan te help of skade te berokken nie.

Ter wille van vermaak (en om ’n bykomende punt of twee te maak) het ek met die voordeel van terugskouing ’n portefeulje gekonstrueer met twee groot wenners (Naspers en Capitec), een groot mislukking (Steinhoff) en sewe ander top-20-maatskappye (sonder om vooraf na hierdie sewe se spesifieke vertoning te gaan kyk) en dit vergelyk met die JSE se indeks van alle aandele.

In albei gevalle het ek slegs met prysbewegings gewerk en dividende geïgnoreer.

Vertoning oor die afgelope 10 jaar

  • Portefeulje van tien aandele = 12,74% per jaar (R1 miljoen groei tot R3 318 623)
  • Indeks van alle aandele = 7,28% per jaar (R1 miljoen groei tot R2 020 107)

Siedaar, dit is maklik dink jy?

Nie so vinnig nie.

  • As jy Naspers as aandeel gemis het in jou portefeulje en byvoorbeeld eerder Remgro ingesluit het, sou jy op R1 836 469 (’n opbrengs van 6,27% per jaar) eindig.
  • As jy bo en behalwe bogenoemde iets soos Hyprop ingesluit het in plaas van Capitec, sou jou opbrengs verder gedaal het tot 2,48%per jaar.

Bogenoemde behoort dit duidelik te maak dat die lyn tussen sukses en mislukking papierdun is.

Dit kon sekerlik ook anders gewees het. In plaas van Steinhoff kon jy dalk ’n beter belegging gemaak het of meer Naspers-aandele gekoop het.

Die werklikheid is egter, en die portefeuljes wat ek onder oë kry weerspieël dit, dat ’n baie groot getal maatskappye (nie net Steinhoff nie) se aandeelpryse oor die afgelope tien jaar met meer as 90% gedaal het en dit is ongewoon om twee groot wenners in ’n portefeulje van slegs tien aandele ingesluit te kry.

Baie mense dink die geheim lê daarin om die maatskappye wat swak doen, te vermy, maar dit is nie wat die data sê nie.

Dit blyk, as jy met die konsentrasie- risiko kan saamleef, dat om ’n paar groot wenners reg te identifiseer en hulle dan eenvoudig vir “ewig” te hou, die antwoord is om beter as indekse of fondsbestuurders te presteer.

Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan.

Dawid Krige, stigter en fondsbestuurder van Cederberg Capital, verwys in ’n nuusbrief van 2019 na Amerikaanse navorsing waarin bevind is tussen 1926 en 2016 het die bes presterende 4% van alle genoteerde maatskappye daar (1 092 uit 25 332) die algehele toename op die beurs verklaar.

Die ander 96% het op ’n netto grondslag geen bydrae gelewer nie.

Ek vermoed soortgelyke navorsing in Suid-Afrika en baie ander beurse wêreldwyd sal dieselfde tendens toon.

As jy persoonlike aandele-portefeulje het (dit geld ook vir buitelands), slaan miskien ag op die volgende:

  • Vra iemand (as jy nie self kan nie) om vir jou die geld-geweegde- sowel as die tyd-geweegde- interne opbrengs op jou portefeulje te bereken. Jy is dalk besig om te kap aan jou welvaart-boom in plaas daarvan om dit water te gee.
  • Groot aandele-portefeuljes in jou eie naam (dit geld ook effektetrusts) het wesenlike kapitaalwins- en boedelbelasting-implikasies wat jou netto opbrengs erg verwater. Kry advies oor alternatiewe verpakkings.
  • KWB-vermyding (of eerder uitstel) behoort nie jou portefeuljebesluite te beïnvloed nie. Die uiteindelike voordeel van uitstel eerder as nou betaal, is kleiner as wat jy dink.
  • Indien jy nog nie een het nie, kry ’n geskrewe beleggingsbeleidsdokument en volg dít eerder as jou “instink”.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons