Be mindful of rand depreciation panic
January 11, 2021
How high is your (financial) fever?
January 25, 2021

Pasop vir rand-val-paniek

Pasop vir rand-val-paniek

Die geskiedenis leer waardevolle lesse oor wat daarop volg

Deur Andró Griessel

12 Desember 2020

Sal jy my glo as ek vir jou sê ek weet wat jy presies vyf jaar gelede ge-‘Google’ het?

Wel, ek kan ’n goeie raaiskoot waag. Dit was waarskynlik “wie de hel is Des van Rooyen”?

Op 9 Desember was dit presies vyf jaar gelede dat oudpres. Jacob Zuma sy hand oorspeel het en die onbekende Des van Rooyen uit die bloute aangestel het as minister van finansies in die plek van Nhlanhla Nene.

En dit was kort op die hakke van die Springbokke se nederlaag van 34-32 teen Japan in September van daardie jaar.

Met die sogenaamde Nene-gate was die uitdrukking op die meeste mense se gesigte en uitwerking op die meeste mense se gemoed soortgelyk aan dié op daardie aaklige dag in September toe die eindfluitjie blaas en ons besef hierdie is nou rock bottom.

Ná die aanstelling van Van Rooyen as minister van finansies, het die rand die volgende dag dramaties verswak.

Die druk op Zuma het opgebou om hierdie besluit om te keer, wat dan toe ook op Maandag 14 Desember 2015 gedoen is.

Die aanstelling van Pravin Gordhan as minister van finansies kon egter nie die rand se vryval stuit voor middel Januarie 2016 nie.

Bloomberg het berig oor rekord-uitvloeie uit Suid-Afrika.

Die rand-dollar-wisselkoers het op 10 Desember 2015 op R15,41 gesluit. Teen middel Januarie 2016 het dit by R17 gaan draai.

Met die skryf hiervan verhandel die rand teen R14,96 teenoor die dollar!

Die probleem met ‘logika’

Hier is die probleem: Finansiële markte werk anders as die lewe in die algemeen. Wanneer dit vir jou na die mees logiese ding op die aarde voel om jou goed (finansieel) te vat en te loop, is dit dikwels die slegste tyd daarvoor.

Sal jy my glo as ek vir jou sê dat om vir die Suid-Afrikaanse regering geld te leen in Januarie 2016, ’n soortgelyke opbrengs sou oplewer oor die daaropvolgende vyf jaar as om in ’n indeks van buitelandse aandele te belê? Of dat buitelandse aandele in randterme “slegs” sowat 3% per jaar beter gevaar het as Suid-Afrikaanse aandele, terwyl die plaaslike mark sywaarts beweeg het en spesifiek die Amerikaanse mark sterk opwaarts beweeg het in dollarterme?

Geld in ’n Amerikaanse dollar kontantbelegging sou vir jou ’n nulopbrengs oor vyf jaar opgelewer het, wat natuurlik beteken jy sou in reële terme geld verloor het.

Die prys van bates maak saak

Dit bring my die volgende probleem:

Daar word dikwels gesê “It is about time IN the markets, not TIMING the markets.”

Hierdie klink na goeie raad en dit ís ook, as jy aanvaar dit verwys na die beginsel van saamgestelde groei, en dat om vir lang tydperke belê te bly baie beter vrugte dra as om in en uit beleggings te probeer spring.

Wat dit nie beteken nie, is dat die prys waarteen jy bates verhandel, nie saak maak nie. Dit maak vir seker saak, en as jy die prys wat jy betaal vir ’n bate ignoreer (in hierdie geval die dollar teen R17 in 2016 en weer onlangs teen meer as R19 in Maart vanjaar), saal jy jouself met toekomstige teleurstellende opbrengste op.

Pessimisme en voorspellings van apokaliptiese tragedies wat ons gaan tref, klink mos slim en weldeurdag terwyl oordadige optimisme weer soos ’n glibberige verkoopsman klink.
Ek dink dit maak sin om albei hierdie ekstreme te probeer vermy en bloot na die bewyse te gaan kyk. Hierdie gedagtepatroon kan seker beste beskryf word as ’n skeptiese realis.

Kyk na die feite

Wanneer ons egter van bewyse praat, moet ’n mens onderskei tussen bewyse wat jy soek om jou eie siening van die wêreld te ondersteun en werklike bewyse.
Onthou die gesegde: Jy is geregtig op jou eie mening, maar nie op jou eie feite nie.

Vir wat dit werd is, hier is twee feite oor die rand en ontluikende markte (waarvan Suid-Afrika een is). Elkeen moet vir hom- of haarself besluit hoe hulle dit wil interpreteer en toepas in hul beplanning:

  • Die rand se langtermynverswakking teenoor die dollar is in die orde van 6% per jaar. Dit het nie wesenlik verander oor die afgelope 20 jaar nie, mits jy nie strategiese begin- en eindpunte kies om ’n punt te probeer maak nie.

    Daar was wel egter vier tydperke die afgelope twee dekades waarin die rand, afgesien van die normale verswakking, wesenlik ekstra (met meer as 30%) verswak het oor ’n kort tydperk.

    Dit was in 2001, 2008, 2016 en 2020. In die eerste drie van hierdie tydperke het beleggings in dollar-kontant in die daaropvolgende drie jaar negatiewe opbrengste in rand opgelewer en die MSCI-wêreldindeks het in randterme swakker gevaar as sowel Suid-Afrikaanse effekte en Suid-Afrikaanse aandele.

    Hierdie is geen aanduider van wat in die huidige siklus gaan gebeur nie, maar die geskiedenis wys optrede in reaksie op ’n dramatiese verswakking in die waarde van die rand, lei tot ’n slegte uitkoms.

  • Daar is baie geskryf oor hoe pateties die JSE die afgelope vyf jaar gevaar het, vernaam vergeleke met Amerikaanse markte.

    Dit is absoluut so. Die argument dat dit ’n permanente ontwrigting is weens Suid-Afrika se unieke probleme, is egter na my mening foutief.

    As verdere “bewyse” word Suid-Afrika se prestasie (40%- totale opbrengs oor vyf jaar) teenoor die MSCI-indeks vir ontluikende markte (82%) dikwels aangehaal.

    Hierdie ontleding hou egter nie in gedagte dat Asië (en vernaam China) ’n relatief goeie vyf jaar beleef het vergeleke met ander ontluikende markte nie.

    China beslaan dan ook 40% van die indeks vir ontluikende markte.

    Wanneer ons kyk na die JSE vs. die indeks vir ontluikende markte sonder Asië, sien ons dat die twee se prestasie die afgelope vyf jaar identies was.

    Ten spyte van ’n onlangse ommeswaai in die tendens, is die gaping tussen ontwikkelde markte en ontluikende markte se valuasies steeds op historiese hoogtepunte. So ’n situasie het in die verlede gelei tot ’n tydperk waarin ontluikende markte beter vaar as die markte van ontwikkelde lande.

Ten slotte: Ek het geen idee wat gaan gebeur in die volgende maand of drie nie, wat nog te sê in die volgende jaar, maar ek is aansienlik meer gemaklik om rande vir dollars te verruil teen huidige koerse as ’n paar maande gelede.

Met dit gesê, as dit steeds deel is van jou strategie om bates buite Suid-Afrika te kry, maak baie seker waarin jy belê aan die ander kant. Sekere bates is geprys vir ’n feëverhaal en somtyds slaan die klok 12 uur en dan verander almal in pampoene.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons
Samuel Rossouw CFP®
(BCommHons; Adv PGDFP)
Wealth Manager
Director

Contact

True to company culture, Samuel strives to build solid long term relationships with clients and has a meticulous way of identifying needs, defining goals and compiling an executable plan to reach one's goals. He firmly believes that one has to be a specialist in one's field to be able to add value, and continuous training & education is therefore paramount. To be objective and to have an independent approach to a client's planning is critical to make a difference.

Born & bred on a farm in the Montague region, Samuel matriculated in 2001 from Montague High School. He completed his BComm Honours degree in Business Management as well as his Postgraduate & Advanced Diploma in Financial Planning. Samuel is a CFP charter holder. Apart from a short stint at an agricultural company Samuel has spent his whole working career with ProVérte. Samuel is a shareholder and valuable member of the board of directors of ProVérte.