How high is your (financial) fever?
January 25, 2021
When things don’t make sense…
February 8, 2021

Hoe hoog is jou (geld) koors?

Hoe hoog is jou (geld) koors?

Vind uit wat jóú beleggings se interne opbrengskoers is

Deur Andró Griessel

28 November 2020

Ek is seker daarvan jy het, net soos ek, die afgelope tyd jou koors meer gereeld laat meet as wat jy vir die res van jou lewe sal.

Of jy bang is vir Covid-19 of dink dit is ’n klug, is irrelevant.

Die punt is, regulasies verplig jou om dié gesondheidstoets gereeld te laat doen.

In finansiële beplanning en spesifiek oor jou gereedheid vir aftrede, is daar egter niemand wat jou verplig om jou finansiële gesondheidstoets te doen nie. Ek kom agter selfs die “dokter” wat na jou moet kyk, neem nooit jou finansiële “koors” nie.

Ek kom terug hiernatoe, maar kom ons maak net gou eers klaar met Covid-19 . . .

Sien hiernaas ’n bygewerkte weergawe van die grafiek van die “Covid-19-ineenstorting” wat ek ook in April hier gepubliseer het. Die JSE verhandel tans steeds sowat 3% laer as waar hy was toe die hele petalje begin het, maar 45 dae nadat die poppe begin dans het, was rofweg 35% van die waarde van jou JSE-belegging (asook beleggings in ander aandelebeurse, in hul eie geldeenhede) uitgewis.

Wat het egter sedertdien gebeur?

Sedert die onderste draaipunt op 23 Maart bereik is, het die verskillende indekse die volgende opbrengste opgelewer (alles in randterme):

  • SA aandele = 52%
  • Aandele van ontluikende markte = 46%
  • Buitelandse aandele = 36%
  • SA effekte = 28%
  • SA genoteerde eiendom = 25%
  • Buitelandse eiendom = 23%
  • SA kontant = 3,5%
  • Buitelandse effekte = 3%
  • Buitelandse kontant = -9%

As ons kyk na die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) se data oor die vloei van geld in die tweede kwartaal van vanjaar – met ander woorde van 1 April tot 30 Junie – lyk dit asof beleggers hulself weer oudergewoonte in die voet geskiet het.

Sien die tabel hierby wat die hoofvloei per fondskategorie aandui. Ek het die grootste fonds (met ander woorde wat waarskynlik die meeste lesers op een of ander manier raak) uit elke kategorie se groei aangedui met die spesifieke fonds se prestasie sedert 23 Maart (die onderste draaipunt van die ineenstorting) tot nou.

Die oranje dui aan waar beleggers verkoop het en die groen waar hulle gekoop het.

R7,8 miljard het uit hoë-aandele- gebalanseerde fondse en suiwer Suid-Afrikaanse aandelefondse gevloei en ’n groot gros daarvan het opgeëindig in die kategorieë SA multibate – inkomste, SA geldmark en SA korttermyn-rentedraend.

Die welvaartvernietiging, of op die minste, verspeelde geleentheid om bates teen baie lae pryse aan te skaf, was weer eens baie groot.

Terug by die meet van jou koors.

Eers wanneer jy ’n interne opbrengskoersberekening op jou beleggings doen, gaan jy weet of jy moontlik die finansiële weergawe van ’n potensieel dodelike siekte het.

Dit is my ervaring dat bitter min mense wat by ons aanklop vir hulp die vaagste benul het van:

  • Wat hul interne opbrengskoers op hul beleggings is;
  • Hoe dit vergelyk met gegewe maatstawwe;
  • Hoe dit vergelyk met die aannames wat gebruik is in die beplanning van hul aftrede; en
  • Hoe die fondse waarin hulle belê is, vergelyk met hul mededingers.

Hierdie bisarre gedrag is die ekwivalent van om ’n lang reis te voet aan te pak sonder om ooit na jou kaart te kyk en nie te weet of jy genoeg kos en water het om jou eindbestemming te haal nie. Gedrag soos hier bo beskryf veroorsaak dan ook dat kliënte se werklike opbrengste (uit hulle beleggingsaktiwiteite) gewoonlik heelwat laer is as wat die onderliggende beleggings oor tyd self behaal.

Wat is ’n interne-opbrengs-berekening? Dit is jou werklike ná koste-opbrengs wat jy as belegger verdien op die premies wat jy betaal. Dit is met ander woorde nie wat buite op die etiket staan nie, maar wat werklik in die blikkie is.

Anders as om jou koors te meet tydens ’n pandemie, ontbreek die dringendheid ongelukkig by mense om na hul beleggingsopbrengste te kyk en te beoordeel of hulle op die regte pad is. En anders as by hierdie pandemie, is die waarskynlikheid van ’n baie onaangename uitkoms (dat jy nie genoeg voorsiening gemaak het nie) baie groter.

Doen jouself ’n guns en bepaal so gou moontlik die interne opbrengskoerse op jou beleggings.

Veral op diegene wat in polis- of versekeringsverwante produkte belê is, wag daar ’n onaangename verrassing.

As jy een van daardie mense was wat in ’n oomblik van paniek tydens die onlangse krisis geld rondgeskuif het (vernaam na sogenaamde “veiliger” beleggings), gaan klop by ’n professionele adviseur aan vir hulp. Hierdie gedrag het ’n vernietigende uitwerking op jou langtermynwelvaart.

Die ander kant van die munt is natuurlik mense wat nou agter histories goeie opbrengste aanhardloop sonder om die potensiële uitkomstes van hier af aan behoorlik te verstaan. Hierdie gedrag gaan amper gewaarborg ’n soortgelyke swak uitkoms bewerkstellig.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Show Buttons
Hide Buttons