The dark side of group schemes
April 14, 2021
Think beyond money market
May 7, 2021

Skadukant van groepskemas

Skadukant van groepskemas

‘n Blasé houding vandag kan jou eendag duur te staan kom

Deur Andró Griessel

20 Maart 2021

Die meeste mense in ’n formele werkomgewing is lid van ’n pensioenfonds, ’n voorsorgfonds of korporatiewe annuïteit, hierna eenvoudigheidshalwe kollektief na verwys as ’n “pensioenfonds”.

My ervaring is dat dit vir sodanige werknemers (en werkgewers) ’n groot mate van gerustheid verskaf dat hulle, mits hulle vroeg genoeg begin bydra het, kan verwag om eendag ’n waardige aftrede te geniet uit die opbrengs van die fondse.

My onlangse interaksie met twee sulke fondse het my ongelukkig net weer herinner dat hierdie gevoel van gerusstelling ongelukkig in baie gevalle nie geregverdig is nie.

Laat ek begin deur te sê dat ek dink die probleme waarna ek kortliks gaan verwys, hoofsaaklik by die kleiner skemas (in klein en middelslag-ondernemings) ’n probleem blyk te wees, maar nie uitsluitlik so nie.

Groepskema 1 by Versekeraar A, (34 lede):

My ervaring met die betrokke versekeraar is dat dit wat buite op die spreekwoordelike etiket staan, dikwels nie is wat binne-in die blikkie aangaan nie.

In hierdie kliënt se geval is sowel die groepversekering (waarmee ek nie ’n probleem het nie) as die aftreevoorsiening (waarmee ek wel ’n probleem het) by die betrokke versekeraar.

’n Maklike manier om te toets of die beloftes wat gemaak word oor opbrengste en gelde wel die waarheid is, is om ’n interneopbrengskoersberekening aan te vra.

Hierdie berekening is baie soos om kaal en sonder grimering voor die wêreld te staan.

Dit is baie moeilik om jou “foute” weggesteek te kry agter die normale maniere wat ons gebruik om dit te verdoesel.

Die interne-opbrengskoers-berekening, met ander woorde wat die werknemers wat lid van die fonds is se werklike opbrengste was, het die volgende gewys:

  • Die hooflid en sowat 40% van die lede dra reeds van middel 2011 af by tot die fonds. Al hierdie mense se opbrengs was laer as inflasie oor die afgelope bykans tien jaar.
  • Nie ’n enkele lid wat sedert 2014 hierin belê het, kon ’n positiewe opbrengs oor die sewejaartydperk behaal nie. Met ander woorde – ná sewe jaar se bydraes het hulle mínder as wat hulle ingesit het.
  • Ek het my eie bydrae tot ons werk se “pensioenfonds”, in die vorm van ’n korporatiewe annuïteit wat regsteeks by ’n bekende beleggingshuis gedoen is, gaan vergelyk met die opbrengste wat die lede van hierdie fonds verdien het. Dit was gemiddeld 6,75% per jaar beter as hierdie lede s’n.

’n Projeksie met die aanname dat hierdie onderprestasie sal voortduur, dui aan dat van die nuwe lede tot die fonds, wat nog baie jare moet bydra, met soveel as 70% tot 80% minder gaan opeindig as waarmee hulle behoort op te eindig.

Groepskema 2 Versekeraar B (ongeveer 500 lede):

Die probleem by hierdie skema is nie soseer die prestasie van die fondse nie. Die probleem is dat 20% van die premie bestee word aan risikodekking en koste en dat slegs 80% van die lid se premie uiteindelik vir aftrede belê word.

Die waarskynlikheid dat die kliënt wel aftree-ouderdom bereik, is beter as enige van die ander nare goed wat oor jou pad kan kom. Maar uiteindelik, wanneer jy jou aftrede moet invaar met net jou pensioenfondsgedeelte, besef jy baie gou jy het eenvoudig nie genoeg wind in jou seile om jou bestemming te haal nie.

In hierdie spesifieke geval is daar oor ’n tydperk van ses jaar reeds R175 159 afgetrek van die lid en oorbetaal aan die skema terwyl sy fondssaldo op slegs R112 619 staan!

As hy byvoorbeeld vandag sou bedank by hierdie werkgewer en aanbeweeg na ’n nuwe een, kry hy eenvoudig die R112 619 om oor te dra na ’n bewaringsfonds of sy nuwe werkgewer se skema terwyl hy weer van voor af risikodekking elders bekom.

Herhaal hierdie proses ’n paar keer in jou lewe en jy kan sien waarop dit afstuur.

Daar is verskeie ander haakplekke ten opsigte van werkgewerskemas wat ek graag vervat in ’n paar punte hier onder.

Wat staan jou te doen as werkgewer

As jy reeds die belangrike eerste stap geneem het om vir jou werknemers groepvoordele aan te bied, moet jy egter een stappie verder gaan om seker te maak hulle is in ’n skema wat hulle in staat sal stel om eendag met waardigheid af te tree of dat die voordele gepas is as ’n ongewensde gebeurtenis soos dood of ongeskiktheid toeslaan.

Ons sien die volgende probleme gereeld:

  • Lede se beleggings is almal dikwels in ’n verstek-opsie wat gewoonlik die versekeraar se eie produk is. Hierdie fondse is dikwels duur en presteer relatief swak vergeleke met hul mededingers.

    Maak seker dat jou werknemers verstaan wat die verskillende beleggingsopsies is. Baie mense is ook hopeloos te konserwatief belê weens hierdie verstek-opsies.

  • Daar is dikwels nie benoemingsvorms nie en wanneer ’n werknemer (veral in die geval van blouboordjiewerkers) sterf, breek ’n hewige geveg uit oor wie die voordele moet ontvang.

    Intestate (omdat hulle dikwels ook nie testamente het nie) erfopvolging is ’n groot probleem waar daar verskeie kinders by verskeie gades is.

  • Daar word nooit ’n bepaling van werklike ná-koste-opbrengste gedoen nie, wat veroorsaak dat mense aanhou met bydraes tot ’n skema soos in die eerste voorbeeld.
  • Dink mooi na oor die sogenaamde geteikende-aftree-ouderdom-beleggings. Ek stem glad nie saam dat beleggings outomaties uit die mark gehaal moet word namate jy aftrede nader nie. Dink byvoorbeeld aan ’n geval waar iemand oor die laaste vier jaar van sy of haar werklewe stelselmatig uit die mark gehaal is met die laaste gedeelte nou onlangs.

    Jy sou bykans geen groei gekry het van 2016 tot 2020 nie en toe uit die mark gewees het vir die massiewe herstel wat oor die afgelope 12 maande plaasgevind het.

    Die impak op die lid se totale aftreegeld sou astronomies negatief gewees het.

Wat staan jou te doen as werknemer

  • Indien jou aftreevoordeel geprojekteer word in toekomstige waarde, vra die adviseur van die skema om dit vir jou uit te druk in vandag se koopwaarde, asook watter tipe inkomste jy (in vandag se koopwaarde) sal kan ontvang daaruit. Dit sal die omvang van jou tekort baie vinnig duidelik maak.
  • Belangrik: Vra vir ’n interneopbrengskoersberekening op jou pensioenfondsbydraes sedert die aanvang, asook wat inflasie oor die ooreenstemmende tydperk was. Indien jou opbrengs nie inflasie met minstens 4% oorskry nie, maak alarm!
  • Maak seker jou werkgewer het ’n benoemingsvorm op rekord vir ingeval jy te sterwe sou kom terwyl jy steeds werk.

In teenstelling met die populêre opvatting is jou woonhuis nie jou grootste finansiële bate nie, maar wel jou pensioenfonds (of voorsienings vir aftrede).

Oor die algemeen ervaar ek ’n baie blasé houding oor wat presies binne hierdie fondse aangaan (aan sowel die werkgewer as die werknemer se kant).

Dit sal albei loon om hul houding hieroor te verander.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management.

Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X
Show Buttons
Hide Buttons
Samuel Rossouw CFP®
(BCommHons; Adv PGDFP)
Wealth Manager
Director

Contact

True to company culture, Samuel strives to build solid long term relationships with clients and has a meticulous way of identifying needs, defining goals and compiling an executable plan to reach one's goals. He firmly believes that one has to be a specialist in one's field to be able to add value, and continuous training & education is therefore paramount. To be objective and to have an independent approach to a client's planning is critical to make a difference.

Born & bred on a farm in the Montague region, Samuel matriculated in 2001 from Montague High School. He completed his BComm Honours degree in Business Management as well as his Postgraduate & Advanced Diploma in Financial Planning. Samuel is a CFP charter holder. Apart from a short stint at an agricultural company Samuel has spent his whole working career with ProVérte. Samuel is a shareholder and valuable member of the board of directors of ProVérte.