Pasop vir ‘n Trojaanse perd
June 21, 2021
How ethical are penalties, fees?
July 28, 2021

Hoe eties is boetes, fooie?

Hoe eties is boetes, fooie?

Vrae oor ‘billike’ dienste

Deur Andró Griessel

26 Junie 2021

Daar is iets wat my al van 2004 af pla en dit is sogenaamde beëindigingsgelde op kontraktuele spaarplanne.

Draai die horlosie 17 jaar verder en soos die kat met nege lewens of daardie robot in Terminator, sterf dié na my mening onetiese praktyk eenvoudig net nie uit nie. Net hier sal my regsgeleerde vriend my oor die vingers wil tik en waarsku teen ’n “naamskending”-saak van een of almal van hierdie maatskappye.

En dit sal dan ook hier wees dat ek vir hom sê dit sal welkom wees, want dalk kry die onderwerp uiteindelik die aandag in die media wat dit verdien.

Die afgelope 17 jaar het ons al telkemale met die langtermynversekeraars (meestal Sanlam en Old Mutual) oor beëindigingswaardes in gesprek getree.

As jy die sake van die ombud vir langtermynversekering gaan lees, sal jy honderde van dié soort klagtes sien.

Ek weet nie van een saak wat die kliënt gewen het nie en daarom gaan die praktyk voort.

Ter illustrasie van wat ek as “onetiese” gedrag (hoewel binne die wet) beskou, beskryf ek kortliks die mees onlangse geval waarmee ons met Old Mutual aan die stoei is.

In Oktober 1993 het die kliënt ’n annuïteitspolis by Old Mutual uitgeneem met ’n premie van R500 per maand wat jaarliks met 20% toeneem. Die kontraktuele uittreedatum vir die polis is 01 Oktober 2027.

Teen 2012 het sy premie weens die groot jaarlikse eskalasie reeds R15 974,24 per maand beloop en hy het besluit om die eskalasie daarvan te staak. Hy het egter aangehou om die premies te betaal.

Ons het voorgestel, weens ons ervaring met dié soort produkte, dat die kliënt sy geld via ’n art. 14-oordrag skuif na ’n suiwer nie-kontraktuele effektetrust-gegronde annuïteit.

Sien hierby ’n uittreksel uit Old Mutual se brief aan die kliënt oor die gewraakte beëindigingskoste.

Sien ook die uittreksel uit die oorspronklike poliskontrak.

Uit ’n dokument wat deur Old Mutual self aan ons verskaf is, beloop al die koste op die polis tans R363,71 per maand.

Selfs al sou Old Mutual dit dus op een slag wou verhaal vir die gelde wat hy nog sou verdien oor die oorblywende 75 maande van die kontrak, kan hy (na my mening) “eties gesproke” slegs nog R27 278 verhaal.

Omdat hy die geld onmiddellik ontvang in plaas van drupsgewys oor 75 maande, sou die redelike mens natuurlik ’n verdiskonteringskoers van minstens inflasie daarop toepas. As ons inflasie as 4% aanvaar, beteken dit ’n bedrag van R24 100.

Tog wil Old Mutual ’n betaling van R419 821 ontvang van ons kliënt om uit sy kontrak met hom te kom. Ek vind dit bisar.

Toe ons vir die hoeveelste keer vra hoe dit moontlik is, het ons vir die hoeveelste keer dieselfde antwoord gekry wat ons reeds vantevore by hulle en ook ander versekeraars gekry het. Ek vertaal regstreeks:

“As ’n Flexi-polis uitgereik word, is daar sekere koste wat aangegaan word. Dié koste sluit in die opstel van rekenaarrekords, die druk en stuur van die polisdokument, kommissie en algemene koste wat insluit die koste van salarisse, huur, personeelopleiding en so meer.

“Die Flexi-reeks polisse is só opgestel dat die aanvanklike koste om die polis op te stel, nie onmiddellik verhaal word nie, maar versprei word oor die volle termyn van die polis. Op dié manier kan die polis onmiddellik begin deel in groei eerder as om die aanvanklike premies te gebruik om koste te dek. Soos hierbo verduidelik, is die vlak van koste so opgestel dat Old Mutual sy koste sal verhaal as die kliënt sy polis behou vir die volle termyn en die voorwaardes van die kontrak gestand doen.

“Ons word gelei deur die verklaring van die voorneme-ooreenkoms deur die minister van finansies en die langtermynversekeringsbedryf wat ingetree het kort voor die einde van 2005.”

Teen die einde van Mei was die kliënt se fondswaarde (voor boetes) gelyk aan R5 403 583, wat ’n interne opbrengs van 8,4% per jaar oor die hele tydperk verteenwoordig. Die onderliggende fonds waarin die kliënt belê was oor die hele termyn was die Performance Profits Balanced Portfolio.

Met die skrywe hiervan kon ons nog nie ’n feiteblad of meer inligting oor die spesifieke fonds uit Old Mutual kry nie, maar die naam suggereer dat dit vergelykbaar behoort te wees met ’n normale gebalanseerde fonds.

Ek het gaan kyk hoe dié fondse se gemiddelde prestasie (sedert 2000) vergelyk met Old Mutual se eie gebalanseerde effektetrustfonds en ’n ander baie bekende gebalanseerde effektetrustfonds (fonds 3).

Die prestasie was onderskeidelik 8,5%, 10,65% en 12,23% per jaar.

Wat dit in praktyk beteken, is dat indien die kliënt aan die begin van 2000 sy geld kon skuif (toe die saldo nog ’n skamele R86 000 was) na Old Mutual se eie gebalanseerde fonds, sou sy waarde vandag ongeveer R6,7 miljoen gewees het of R7,9 miljoen by Fonds 3.

Is dit moontlik dat die verskil tussen wat Old Mutual se interne gebalanseerde mandaat opgelewer het en wat aan die kliënt “verklaar” is, die antwoord hou oor waarom hulle so vasklou aan die geld? Of is die antwoord so eenvoudig dat die ooreenkoms met die minister van finansies hom bloot wetlik toelaat om 17 keer meer te vra as wat eties verdedigbaar is?

Of lê die antwoord in die batebestuursgelde van meer as R80 000 per jaar wat hy tans op die bestuur van die geld verdien?

Ons het al alle kante toe hieroor probeer redeneer en antwoorde probeer kry. Ons kom ongelukkig elke keer by dieselfde antwoord uit en dit is dat die boetes nie moreel en eties verdedigbaar is nie.

Dit slaan my dronk hoe dit verby die nuwe wetgewing wat handel oor die billike behandeling van kliënte kom.

In Old Mutual se jongste voorlegging oor sy finansiële resultate verwys Iain Williamson, uitvoerende hoof, na Old Mutual se “doelwit” om “ ’n baanbreker te wees in ’n gemeenskaplike positiewe toekoms”.

Ek is nie seker of hy hier net verwys na die aandeelhouers en bestuur nie, maar hopelik sluit dit sy kliënte in wat hul swaarverdiende geld aan hom toevertrou.

As ek egter my skrywe op sy tafel kon kry, sou ek by hom pleit om sy woorde in ooreenstemming te probeer bring met wat op die grond in sy maatskappy aan die gang is en om ’n daadwerklike baanbreker te wees en weg te doen met dié onetiese boetes.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X
Show Buttons
Hide Buttons
Samuel Rossouw CFP®
(BCommHons; Adv PGDFP)
Wealth Manager
Director

Contact

True to company culture, Samuel strives to build solid long term relationships with clients and has a meticulous way of identifying needs, defining goals and compiling an executable plan to reach one's goals. He firmly believes that one has to be a specialist in one's field to be able to add value, and continuous training & education is therefore paramount. To be objective and to have an independent approach to a client's planning is critical to make a difference.

Born & bred on a farm in the Montague region, Samuel matriculated in 2001 from Montague High School. He completed his BComm Honours degree in Business Management as well as his Postgraduate & Advanced Diploma in Financial Planning. Samuel is a CFP charter holder. Apart from a short stint at an agricultural company Samuel has spent his whole working career with ProVérte. Samuel is a shareholder and valuable member of the board of directors of ProVérte.