Wanneer dit kom by eiendomsversekering, is daar een belangrike vraag wat elke eienaar hulself behoort te vra: Is my eiendom vir die regte bedrag verseker? Te veel mense aanvaar dat die munisipale waardasie van hul huis of gebou genoeg is om as basis vir versekeringsdekking te dien – maar dit is nie altyd die geval nie.
Wat is ’n munisipale waardasie?
’n Munisipale waardasie is die bedrag wat die plaaslike owerheid aan jou eiendom toeken vir die berekening van eiendomsbelasting. Hierdie waardasie weerspieël wat hulle glo die markwaarde van jou eiendom is – wat iemand moontlik bereid sal wees om daarvoor te betaal, gegewe ligging, grootte en ander faktore.
Maar belangrik: dit gaan oor verkoopwaarde, nie herbouwaarde nie.
Wat is vervangingswaarde?
Die vervangingswaarde is wat dit jou sal kos om jou eiendom na ’n verlies te herbou soos dit was voor die verlies, om jou dus in dieselfde posisie te plaas as voor jou verlies. Dit sluit nie net die fisiese struktuur in nie, maar ook:
- Huidige boukoste en materiaalpryse
- Professionele fooie (argitekte, ingenieurs, ens.)
- Sloping van die bestaande struktuur indien dit nodig is
- Kostes om aan nuwe bouregulasies te voldoen
- BTW en ander koste In baie gevalle is die
In baie gevalle is die vervangingswaarde baie hoër as die munisipale of markwaarde, juis omdat dit op werklike koste gebaseer is, nie ’n teoretiese verkoop nie.
Die risiko van onderversekering
As jy jou eiendom baseer op ’n munisipale waardasie van byvoorbeeld R3 miljoen, maar dit sou jou R6 miljoen kos om dit volledig te herbou, is jy 50% onderverseker. Ten tye van ’n eis, sal die versekeraar in hierdie geval die verlies in verhouding tot jou onderversekering uitbetaal.
Byvoorbeeld:
’n Storm veroorsaak skade van R200,000.
- Jou eiendom is vir R3 miljoen verseker.
- Die vervangingswaarde is egter R6 miljoen.
- Jy is dus 50% onderverseker.
- Die versekeraar sal net R100 000 uitbetaal en jy word as jou eie versekeraar beskou vir die verskil.
Hoekom dit belangrik is om op hoogte te bly
Boupryse verander, wetgewing verander en met elke verandering neem die risiko van onderversekering toe as jou polis nie gereeld hersien word nie. Selfs as jy geen eis hoef in te dien nie, kan jy jou finansiële risiko op ’n eenvoudige manier beperk deur seker te maak jy is korrek verseker.
Wat kan jy doen?
- Moenie staatmaak op jou munisipale waardasie nie. Dit is nie geskik vir versekeringsdoeleindes nie.
- Kry ’n professionele vervangingswaardasie. ’n Gekwalifiseerde waardeerder of boukundige kan jou help om ’n realistiese bedrag te bepaal.
- Laat jou polis jaarliks herevalueer. Dit geld veral ná opgraderings, bouwerk of groot markveranderinge.
Om verseker te wees vir die regte bedrag beteken meer as net gemoedsrus – dit beskerm jou finansieel wanneer jy dit die nodigste het.
Laat ons jou help om seker te maak jou eiendom is nie net verseker nie – maar behoorlik verseker.